My Sussie se Feetjies

11 1 7
                                    

Fassinerend.

Ek het altyd 'n liefde vir die woud agter ons familiehuis gehad. Seker al vanaf ons destyds hier ingetrek het. Die plantegroei is al die pad iets vanuit 'n ander wêreld, maar ek het nooit van te vore gesien hoe sampioene so op iets groei nie.

Toe ons klein was, het ek en my sussie, Bella, elke klimbare boom uitgeklim asof ons bobbejane was en sommige van die bome het sampioene gehad wat so teen aan die bas gegroei het. Sy het altyd vas geglo dat feetjies hulle huise op hierdie sampioene bou, maar ek het nog nooit een klein huisie gesien op een van hierdie sampioene nie. Haar redenasie is dat as hulle mense hoor aankom, trek hulle en breek hul eie huisies af.

Die sandkorrels was blykbaar die bakstene, die bome se blare was die dakke en deure, en die stukke glas wat orals lê was die vensters. Dis darem vinnig wat hulle op pak en verdwyn, want ek het al 'n paar keer hiernatoe gehardloop en dan was daar reeds niks.

Ek het haar begin betwyfel en vir haar ook gesê dat dit onmoontlik is vir feetjies om te bestaan. Hoe sien 'n mens net nooit een raak nie?

Blykbaar is feetjies eintlik skoenlappers wat ons tande onder ons kussings uithaal en meubels daarmee bou. Weereens, hoe trek hulle ons tande daar onder uit met hul dun skoenlapperarms? Hoe druk hulle munte onder die kussings as 'n beloning? Die transaksie is 'n snaakse affêre, maar Bella het dit geglo. So ek het probeer om optimisties te bly en saam te glo.

Meer en meer mense het rondom hierdie woud begin bly en saans het ons iemand begin hoor sing. My sussie het geglo dat dit die feetjies is wat sing van blydskap, omdat daar nog tande is vir hul meubels.

Later wou sy graag buitentoe gaan om te kyk of sy kan uitvind waarvandaan die gesang kom, maar die gedagte het vir my baie benoud gemaak. Tog het ek een aand ingestem...

"Word wakker, Boetie," Bella het my kom wakker skud. "Hoor jy die feetjies sing?"

Ek het regop gesit en my oë gevryf. Inderdaad was daar weer gesingery van buite af. Dit was elke aand omtrent klokslag tienuur wat 'n mens dit kon begin hoor het.

Bella het huppelend na ons kamervenster beweeg en met haar vinger teen die ruit gaan staan. Ek staan toe ook by haar en ek kon my oë nie glo nie. Daardie aand het 'n liggie tussen die bome deur gekom.

"Kan ons gaan kyk?" Ek kon die opgewondenheid in haar stem hoor. "Die feetjies vier seker ook Kersfees."

Ek stem toe met die avontuur in. Ons het saggies verby ons ma-hulle se kamer gesluip en by die agterdeur uitgegaan. Die gesangery was skielik baie harder.

Bella het nie vir my gewag voordat sy bome toe gehardloop het nie. "Kom, Boetie! Kom ons gaan kyk voordat hulle ophou!"

Voor ek myself kon keer, was ek agterna. Ek het redelik gou opgevang, want sy was skielik nie meer so opgewonde nie.

Ons kon die gesangery baie duideliker hoor en dit kon definitief nie van haar skoenlappertjies afkom nie. Dit het geklink soos iets vanuit daardie films wat ons ouers nooit wou hê ons moes kyk nie.

"Sha... Sha... Sha..."

Bella het nogsteeds nader gestap met my wat volg, net stadiger.

"Sha... Sha... Sha..."

Die lig het al hoe helderder geraak soos wat ons nader gegaan het. Dit het ook warmer geraak.

"Sha... Sha... Sha..."

Ek sou jok as ek gesê het dat ek nie bang was nie. My sussie se feetjies was nêrens te siene nie. Ek dink in elk geval dat feetjies nooit sulke tipe goed sal sê of doen soos wat ons daardie aand beleef het nie.

"Sha... Sha... Sha..."

Nie eers 'n kriek het 'n geluid gemaak nie. Al dier wat ons kon hoor, was die skielike distres van 'n kat in die rigting van die lig.

"Sha... Sha... Sha..."

Die kat se distres het my sussie laat hardloop...

"Sha... Sha... Sha..."

...in die rigting van die lig.

"Sha... Sha... Sha..."

Ek was vas geanker net daar. Hoe kon sy?

"Sha sha sha sha sha sha..."

Die gesang het al hoe vinniger geraak soos Bella verder weg van my af gehardloop het.

"Boetie!" My sussie se gegil eggo deur die woud, maar ek hardloop in die teenoorgestelde rigting.

Huis toe.

Terug in die huis.

Op by die trappe.

In my bed.

Bella was die volgende oggend vermis verklaar en ek was te bang om enige iets te sê. Ek was bang dat haar feetjies aan my sal doen wat hulle aan haar gedoen het.

Ek het elke aand vir jare lank net wakker bly lê tot tienuur om te wag vir die feetjies om te sing, maar hulle het nie meer nie.

Toe ek klaar is met skool, het ek so gou as moontlik daar weggetrek. Lewe het aangegaan soos dit moes. Al wat my terug gebring het na die plek toe, was die afsterwe van my pa. My ma is binne 'n kwessie van 'n paar maande na my sussie se verdwyning oorlede. Hulle sê dis die hartseer wat haar moederhart laat staan het.

Met dit, toe erf ek die familiehuis met sy feetjies in die woud agter. Ek het geweier om die plek my eie te maak en het besluit om dit te verkoop. Die pakkery gaan 'n tydjie vat, maar ek vorder.

Gisteraand was die eerste aand wat ek weer hier oorgeslaap het en die gesang het klokslag tienuur begin.

Vanoggend het ek besluit om te stap tot waar ons jare terug die gesang vandaan hoor kom het.

My sussie...

Haar geraamte is deel van 'n boom se wortel wat bogronds groei. So baie sampioene groei teen die bas en wortels. Op een sit 'n skoenlapper.

Ek sak in mekaar en huil.

"Kyk, Sussie, die feetjies bou hulle huisies op jou."

My Sussie Se FeetjiesWhere stories live. Discover now