Loerfotograwe en hoofnuus

151 4 0
                                    

HOOFSTUK 5

Ariana is vroeg op na ‘n slapelose nag en besluit om sommer ‘n ent te gaan stap, gelukkig is die gronde van die villa groot en sy kan dit met veiligheid doen.  ‘n Hele ent van die villa af is 'n klein familiekerkhoffie met die mooiste kapel.  Dit is dan ook soontoe waarheen sy stap.  Binne is dit doodstil en sy gaan sit op die voorste bank, terwyl sy haar verkyk aan die lieflike binnekant en die mooi loodglasvensters.  Sy raak rustig en hoor nie eers die sagte voetval agter haar nie.  Maar sy kry die gevoel dat sy dopgehou word en kyk om.  Dominiq staan in die deur met sy hande in sy sakke en laat die kerkie nog kleiner lyk.  Sy draai terug en wag dat hy iets moet sê.  Die volgende oomblik skuif hy langs haar die bank in en gaan sit half vooroor met sy arms op sy knieë, sy skuif weg asof sy gaan opstaan en hy keer haar met sy hand op haar pols.  “Ariana, wag........sal jy asseblief  luister as ek verduidelik oor gisteraand.”  Sy wil eers loop, maar sy voel hy moet ‘n kans kry om sy kant van die episode te verduidelik.  Daarom gaan sit sy en knik net met haar kop.  Hy sit weer so vooroor voor hy begin praat.  “Ek is jammer oor gisteraand.  Ek het nie bedoel om jou bang te maak of te laat voel dat ek met jou gevoelens speel nie.  Ek wil nie hê jy moet ooit weer van my af weghardloop nie, maar ek gaan nie omverskoning vra oor ek jou gesoen het nie, ek het dit geniet, ek is ‘n normale man en jy het dit net soveel soos ek geniet.  Ek wil nie sommer net ‘n vakansie romanse begin nie, dit was regtig nie my bedoeling nie.  Dit is teen my beginsels en ek het hopeloos te veel respek vir jou.  Dit mag dalk vir jou moeilik wees om te glo maar ek voel lewendig wanneer jy en die kinders by my is.  Ek wil nie ons vakansie opmors nie.  Sal jy my vergewe vir my warm latynse bloed cara mia? ”  Sy kry eintlik groot lag vir sy pleiting, maar hoe de duiwel vertel sy hom dat sy wens hy wil aanhou om haar om elke hoek en draai te soen, sonder om haar naam met ‘n plank te slaan.  “Dominiq, daar is niks om te vergewe nie, ek sal nie lieg en sê ek het dit nie geniet nie, maar dit is dalk nie so goeie idee om dit weer te doen nie.  Net-nou sien iemand ons en kry die verkeerde idee.  Jy weet die media is altyd iewers aan die loer.  Ek wil nie die hoofopskrif in ‘n Italiaanse koerant wees nie.”  O genade dan moet sy nie vanoggend se koerante sien nie.  Hopelik kan hulle vertrek Palermo toe voordat sy dit sien.  “Nou maar kom, die ander soek ons seker al vir ontbyt. Ek hoop nie jy gee om nie, maar Rodrique en Jaqueline het besluit om saam te gaan Palermo toe.  Dit is gelukkig ‘n groot huis.”  Hulle loop na die deur en sy wil amper spring so verlig is sy.  Met die ander twee ook daar behoort sy en Dominiq in veilige waters te wees.  “Nee wat hulle gaan my regtig nie pla nie.  Ek gaan swem en rus en skilder en net vergeet van alles om my.”  By die deur van die kerkie sit hy sy arm om haar skouer en leun vorentoe net toe sy opkyk en plant ‘n soen op haar mond. “Cara mia, solank jy net nie heeltemal van my teenwoordigheid vergeet nie, kan jy doen net wat jy wil vir die volgende twee weke.”  Vir die loerfotograaf op die muur lyk dit na ‘n goeie foto en hy neem ‘n hele paar met sy langlenskamera.  Onbewus van die loerder stap hulle so met hulle arms om mekaar huistoe.  Op die patio wag die ander hulle al in vir ontbyt.  Kiara stamp aan Nicolae toe sy sien hoe skielik haar ma uit Dominiq se omarming tree.  Rodrique vang dit ook en sien die twee kinders se glimlagte en stampe.  Sjoe gelukkig lyk dit of die kinders nie ‘n probleem met Dominiq as stiefpa gaan hê nie.  Maar Ariana gaan ‘n moeilike een wees om te oortuig.  En as sy vanoggend die koerante sien gaan sy moeiliker raak.  “Môre julle twee rondlopers, amper eet ons sonder julle.  Ek is rasend honger en Clare maak die beste ontbyt ooit.”  Almal begin aansit toe Clare met die kostrollie uitkom en alles op die tafel plaas.  Die Koerante sit sy dan ook ouder gewoonte langs Dominiq se bord neer.  Sy weet nie hy het dit reeds gesien nie.  Kiara is eerste om te sien Dominiq vat die koerante en plaas dit langs hom op die trollie.  Ariana merk dit ook op en Jaqueline teken protes aan.  “Nee nee nee, Dominiq, hoekom word die koerante so vinnig weggesteek.  Ons wil sien of die troue die hoofopskrifte gehaal het.”  Dominiq lyk ongemaklik en gee die koerante maar baie onwillig vir Jaqueline aan.  Sy vou die eerste een oop en daar is ‘n groot foto van Dominiq met Ariana in sy arms op die dansbaan met die opskrif: “Dominiq Scarlatti met die vrou in sy arms wat hy gisteraand beweer het dié een kan wees.”  Ariana verstik amper in haar lemoensap.  Sy kyk dadelik vir Dominiq. ”Sien jy wat het ek jou gesê.  Ek haat hierdie koerantmense wat sommer mens se woorde so verdraai en net aannames maak.  En jy met jou groot mond.  Daar het jy dit nou.”  Sy is baie vies en gryp die volgende koerant.  Daar is ‘n foto van haar en die kinders saam met Dominiq en Rodrique waar hulle almal heerlik lag en die opskrif lees, “Dominiq Scarlatti aan die sy van die befaamde Suid-Afrikaanse skilder Ariana Caruso en haar kinders.”  Sy smyt die koerant vies eenkant toe en gryp die volgende een.  Gelukkig is dit net ‘n lieflike gesig foto van Dominiq en Rodrique saam met hulle Pa Don Mauritsio.  Die volgende koerant laat haar amper van haar stoel afspring.  ‘n Foto geneem in Suid-Afrika met hulle aankoms by die lughawe waar Dominiq haar soengroet met die onderskrif:  “Bekende besigheidsman Dominiq Scarlatti in ‘n tere omhelsing met ewe bekende skilder Ariana Caruso, die weduwee van die advokaat Christopher Caruso.”  Ariana wil opvlieg, maar Dominiq keer haar en druk haar ferm terug op die stoel.  “Hokaai Ari, dit help nie om jou ontbyt te los oor jy nie hou van die koerantberigte nie.  Dit gaan elk geval niks help nie. Gedane sake het geen keer nie.  Ons hanteer dit soos ons dit kry en de duiwel met die koerante. My en jou privaatlewe het niks met hulle uit te waai nie.  Ek ignoreer die tipe berugte en gee hulle nie nog iets om oor te skryf deur hulle aan te vat nie.  Laat hulle en die wêreld daarbuite net glo wat hulle wil.  Nie ek of jy het enige iets gedoen waaroor ons hoef skaam te voel nie.  Sit en eet, dat ons uit hierdie stad kan kom en gaan rus.”  Ariana gee hom ‘n kwaai kyk wat die ander laat proes van die lag tot hy hulle ‘n kwaai kyk gee.  Daarna eet almal in stilte tot Jaqueline begin gesels oor die fantastiese rok wat Marcella aangehad het.  Daarna word die atmosfeer lig en almal is in die luim vir die uittog na Palermo toe.  Die ligte vliegtuig het skaars geland of die motorbestuurder is daar om die gaste en al die bagasie te kry. Ariana kan haar verkyk aan die blou van die see en kan nie wag om te begin skilder nie.  Die strandhuis van Dominiq lyk of dit uit die rotse gekap is.  ‘n Kolosale kliphuis bo-op ‘n koppie wat oor die see uitkyk.  Al die kamers het ‘n see uitsig en daar is trappe anderkant die swembad wat afgaan na die strand toe.  In die hoek van die tuin is ‘n braai-area en drie groot sambrele wat koelte maak oor die tafel en stoele wat daar staan.  Ariana staan nog en uitkyk oor die tuin toe daar ‘n ligte klop aan haar deur is.  Kiara glip binne en maak die deur toe.  “Mams, het jy ‘n oomblik tyd om te gesels?”  Ariana beduie vir Kiara om voor die venster in een van die leunstoele te sit.  “Natuurlik het ek tyd, is daar ‘n probleem?”  Kiara lyk eers huiwerig maar besluit dis nou of nooit.  “Ma weet Dominiq se neef Louis-hulle bly net hier oor die straat, en die kinders het ons genooi om te gaan swem net-nou...maar...ek is bang Ma hou nie van hulle nie oor hulle bietjie rebelse tieners is en Louis en Mary-Ann blykbaar al hul dae met die twee het.  Dis nou om hulle uit die tronk en in die skool te hou.  Jaqueline het gesê ek moet net versigtig wees vir Matteo want hy is ‘n gladdebek en die tipe seun wat jy nie naby jou dogter wil toelaat nie.  Maar miskien soek hulle net aandag sê Rodrique, want Mary-Ann is ‘n bekende hartsjirurg en Louis is pal by sy besigheid.  So wat maak ek en Nicolae nou?”  Ariana weet van die praatjies wat sy by die troue gehoor het, maar sy kan ook nie die kinders net veroordeel nie.  “Kiara....”  Die deur gaan oop en Nicolae glip binne.  “O jy het my voorgespring nê.”  Hy kom sit sommer op die bed.  “Nicolae as jy hier is oor die twee kinders oorkant kan ek net sê ons kan hulle nie oordeel op hoorsê nie, maar ons kan hulle wel ‘n kans gee, om hulself te bewys.  Julle weet wat julle toegelaat word en julle is oud genoeg om te weet wat is reg en verkeerd.  Geniet die ander jonggeselsskap, maar hou altyd matigheid voor oë.”  Nicolae spring op en gee sy Ma ‘n druk en Kiara soen haar op die wang.  Altwee hol deur toe en sê gelyk.  “Dankie Ma, lief vir jou!”  Dominiq kom staan in haar deur.  “Darem lekker as twee sulke groot kinders vir mens so iets sê nê?”  Sy kan nie mooi die uitdrukking op sy gesig pyl nie, maar hy lyk half hartseer.  “Ja dit is lekker, al wat kinders eintlik vra is net liefde en aandag, geld maak nie op vir liefde nie.”  Sy staan op en stap saam met hom uit na buite.  Almal ook Matteo en Abbigail is daar langs die swembad.  Dominiq keer die kinders voor hulle wil gaan swem.  “Luister net gou na die reëls vir die vakansie.  Ons gaan nie werk nie, so ontbyt en middagete sorg elkeen vir homself, aandete kan ons braai of gaan uiteet, hier is heerlike klein privaat restaurantjies.  Verder doen elkeen net wat hy wil, maar moet onder geen omstandighede alleen gaan swem nie, die see is bedrieglik kalm partykeer.  Ek weet jy en Abby ken die see hierlangs soos die palm van julle hand, maar dit geld vir julle ook asseblief.  Iemand moet ten minste altyd weet waar julle is.  Is dit reg so?”  Die kinders stem saam en weg is hulle.  Rodrique en Jaqueline besluit om ook te gaan swem en Dominiq draai na Ariana.  “En jy cara mia, het jy iets op jou agenda of is jy lus om saam met my langs die see te gaan stap, dan wys ek jou waar sit al die eetplekke en ons kan Palermo bietjie verken as jy wil.”  Ariana besluit sy wil graag die dorp sien, dus aanvaar sy die aanbod.  “Nee wat ek het niks beplan nie, ons kan gerus stap.  Ek hou daarvan om nuwe plekke te sien.”  So word elke dag begin met almal wat gaan swem, dan gaan stap Dominiq en Ariana lang engte, waarna sy iewers gaan sit om te skilder, Rodrique en Jaqueline verdwyn en kuier die hele dorp vol by ou vriende en die vier kinders het die hele dorp se jonges opsleep of om te gaan volleybal speel of visvang of fiets te ry straat op en straat af.  Saans is almal doodmoeg en eet of uit of braai ‘n vleisie of vissie langs die swembad.  Matteo en Abby is twee ander kinders en toe Louis-hulle een aand tyd maak om te kom saam braai, noem hy dit teenoor Dominiq en Ariana.  “Jy weet Louis ek kritiseer nie jou of Mary-Ann nie, maar jou kinders soek net aandag.  Ongelukkig vir julle bly julle in Rome en is geld nooit ‘n probleem nie. Maar die kinders raak ook moeg vir alles wat geld kan koop, dan begin hulle eksperimenteer met ander dinge en dan beland hulle gou in die moeilikheid.  Ons het hierdie twee weke baie tyd saam met die kinders deurgebring, Ariana se kinders is dit gewoond, julle kinders het dit eers vreemd gevind maar gou gewoond geraak aan ons in die geselskap.”  Louis kyk lank na Dominiq en dan na Ariana voor hy antwoord.  Mary-Ann lyk baie ongemaklik.  “Ek weet Dominiq, ek het besef so deur die loop van die twee weke toe my kinders nie eenkeer kom geld vra het nie, maar ook nie ongelukkig gelyk het nie, dat hulle iewers ‘n wenresep raakgeloop het.  Ek wonder nou of ek jou en Ariana nie ‘n baie groot guns kan vra nie.”  Dominiq en Ariana antwoord byna gelyk.  “Sekerlik vra, as ons kan help dan sal ons.”  Mary-Ann lyk verlig.  “Ek en Mary-Ann het gepraat hieroor die week en gedink as ons miskien die kinders vir hulle volgende vakansie Suid-Afrika toe kan stuur na julle toe, of dit hulle nie in beheer sal hou die nuwe kwartaal nie.  Jy weet ‘n belofte dat hulle Suid-Afrika toe gaan na jou toe kan dalk net help.  Jy is darem ook hulle peetpa en hulle is gek na jou, maar sien jou min.”  Dominiq dink ook dis dalk ‘n plan, maar hy stem nie saam dat die kinders alleen kom kuier nie, dan is daar geen sin in nie.  Hy kan ook sien Ariana stem nie saam nie.  “Ari wat dink jy?”  Sy kan nie glo hy plaas haar so in die kollig nie, hy weet goed wat dink sy van ouers wat kinders geld in die hand stop en op ander afpak en hulle dan so probeer tevrede hou.  “Wel... jy weet baie goed hoe ek oor die opvoeding van kinders voel, dis ‘n baie dom vraag.  As ek my mening gee mag jou familie dalk net niks van my hou na dese nie.”  Dominiq lag, want hy weet hier kom ‘n ding.  Louis daarenteen besef nie hy vra vir moeilikheid nie en por haar so ewe aan.  “Wel as mens kyk na hoe gebalanseerd en goedgemanierd jou kinders is, moet jy ‘n wenresep daar beet hê, hoekom dit dan nie maar met ons deel nie?”  Ariana kan sien Mary-Ann twyfel of Ariana enigsins iets sinvols sal kan sê.  “Die probleem is dat elke ouer sy eie manier het om sy kinders te hanteer en op te voed.  Maar vir my is daar een basiese reël.  Kinders het liefde en aandag van sy of haar eie ouers nodig, wees betrokke by jou kind.  Wat ek julle nou vertel het ek nog nooit met iemand anders bespreek nie, ek kon nog nooit nie.  Miskien is vandag die dag wat ek iemand anders kan help met my ondervinding.  Ek het van dag een af nie ‘n keuse gehad nie.  Om my kinders teen hulle eie Pa te beskerm moes ek alles wat ek graag wou bereik het in my lewe eenkant toe stoot om my kinders te kan beskerm.  Hulle moes goedgemanierd wees om te kan oorleef.  Hulle moes saamwerk vir ons al drie se beswil.  Dit het hulle baie vinnig geleer op die harde manier.  Ek gaan nie uitbrei nie, maar ek het uit ‘n baie moeilike huwelik gestap as weduwee.  Dit wat ek my kinders geleer het van kleins af, moes ek bly toepas om hulle te kan beheer.  Maar al was ek streng het ek hulle altyd hulle opinie gevra, iets wat ek nie kon doen toe hulle kleiner was en my man nog geleef het nie.  Dit het wedersydse respek afgedwing en ek het ‘n loopbaan begin as skilder en binneshuisversierder, maar nooit ten koste van my kinders nie.  Hulle was en is steeds prioriteit nommer een.  Jou kinders moet eerste kom in jou lewe en weet hulle is vir jou belangriker as geld en roem.  Vakansies moet saam as ‘n gesin deurgebring word, maar of dit nou nog vir julle gesinnetjie kan help met kinders wat reeds so groot is en klaar hulle eie paadjies begin loop het weet ek nie..  Julle kan egter seker probeer ter wille van julle kinders.  Nou as julle my sal verskoon, gaan ek solank die slaai maak terwyl julle nog gesels.”  Daarmee staan Arrians op en stap die huis binne.  Mary-Ann se mond hang letterlik oop.  “Hoe kon sy so in ons gesig sê ons is slegte ouers, die vermetelheid.”  Mary-Ann wil opspring maar Louis keer haar.  “Sit!  Dit help nie om weg te hardloop van ons probleme nie.  Sy is reg weet jy, ons loopbane was nog altyd vir ons belangriker as ons kinders.  Ons was al die jare verkeerd en nou wil ons die kinders blameer vir hulle ongemanierdheid en onverantwoordelikheid.”  Louis besef dit is vir sy trotse vrou ‘n bitterpil om te sluk, maar Ariana en Dominiq is reg.  Dominiq wag eers dat Louis se woorde by haar insink voor hy iets sê.  “Ek stem natuurlik heelhartig met Ari saam.  Julle kinders het julle nodig en wie weet dalk is dit nie heeltemal te laat om die situasie om te swaai nie.  Julle is welkom die volgende vakansie om by my tuis te gaan, maar dan is dit julle al vier saam.”  Hy verskoon homself en gaan kyk of Ariana hulp nodig het.  Sy staan in die kombuis met haar rug na hom en kyk nie om toe hy inkom nie.  Sy gaan net aan met die slaai.  Hy sit sy hande op haar skouers maar sy hou aan sny.  “Ari ek is jammer ek het jou so in die kollig geplaas, maar skok is partykeer goed vir sulke mense soos Louis-hulle.  En jy kan nogal goeie skoktaktiek toepas as jy die dag lus het.”  Hy trek haar rug tot teen sy bors en loer om haar hare, om haar gesig te kan sien.  Wat hy egter eerste sien is die trane op haar wange.  Daarmee draai hy haar om na hom toe net so teen sy bors.  Sy laat sak haar kop en hou aan huil.  Hy vryf oor haar rug en voel hoe sy bewe.  Sy is vreeslik ontsteld en dit is sy skuld.  Dit laat hom soos ‘n skurk voel.  “Ari mio amor, moenie so vreeslik huil nie.  Niemand is kwaad vir jou nie.  Louis-hulle besef maar alte goed ek en jy is reg.  Ek is seker hulle gaan probeer om hierdie ding reg te stel.  Kom kyk vir my dat ek jou trane kan afdroog.”  Hy lig haar kop en vee met sy duime oor haar ooglede en wange.  Haar oë is neergeslaan maar dit help niks om die skielike opwelling in sy gemoed te blus nie.  Liewe hemel, hy sal hemel en aarde vir haar verskuif as hy net kan.  Hy laat sak sy kop en soen haar saggies op die lippe.  Haar oë vlieg oop en hy kyk diep in haar oë voor hy sy kop weer laat sak en haar soen dat haar kop draai.  Sy kom nie eers agter met hoeveel passie sy hom terug soen nie.  Daar is stemme voor die agterdeur en hulle los mekaar skielik en tree weg van mekaar af, maar weet nie dat Rodrique en Jaqueline hulle reeds gesien het nie.  Rodrique maak of niks snaaks gebeur het nie.  “Nou toe waar is die vleis, dat ek begin braai, net-nou eet daai hongerige kinders die rooster of kole op.  Ek sien Ari het toe wraggies vir ons regte Italiaanse brode gemaak en slaai.  Ai Ari, jy is ‘n vrou so na my hart, miskien moet ek Jaqs afsê en na jou begin vry.”  Jaqueline lag net en gee hom ‘n vuishou, maar Dominiq is glad nie so kalm nie.  “Los jy maar die gevry na Ari uit, sy stel nie in jou stuitigheid belang nie.  Bepaal jou liefs by Jaqueline, sy is definitief die vrou vir jou, sy sal maar net moet leer kos maak.”  Ariana glimlag net, en skud haar kop, tel die slaai op en begin uit loop.  “Jaqueline, bring jy die brode asseblief vir my, dan kan hulle die eetgerei en skinkbord met souse en botter dra as hulle klaar gekibbel het oor wie vry vir wie.”  Louis-hulle is stil tydens ete, maar ook net omdat hulle die kinders en hulle interaksie met Dominiq-hulle so intens dophou.  Dit word ‘n aangename aand en die kinders het later tot die grootmense almal in die water.  Tot Louis en Mary-Ann speel saam volleyball in die swembad tot groot verbasing van hulle kinders.  Dit is aande soos hierdie wat Ariana gaan mis terug in Suid-Afrika.  Dominiq het nie verniet as tienerseun al gesê, as hy haar eers in Italië gehad het sal sy nie wil weggaan nie.  Hy het geweet waarvan hy praat.  Ariana is egter heeltemal te stil na Dominiq se smaak.  Hy hoop nie hy het nou weer verbrou met sy gesoenery nie, maar dit word al hoe moeiliker om weg te bly en sy hande tuis te hou.  Hy vorder ook gans te stadig na sy sin met hulle verhouding.  Dit is of daar elke keer iets voorval wanneer hy haar wil vra om te dink oor ‘n ernstige verhouding tussen hulle.  Oormôre vertrek hulle vir die dag terug Rome toe om ‘n afskeidsete by sy Ma-hulle te geniet en hy sou bitter graag wou verloofraak dan.  Maar dit gaan nie gebeur nie, hier is te veel mense in die pad van enige amoreuse gedagtes.  Hy kan nie glo dat hy so goed is in besigheid maar so treurig om die vrou van sy drome vas te trek nie.  Ariana sit en kyk na die kinders wat nog swem en toe sy opkyk vang sy Dominiq se blik op haar.  Sy oë lyk al weer soos heuning, smeulende warm loperige heuning.  Sy voel hoe sy begin bloos en kyk vinnig weg, maar sy sien die glimlag om sy lippe.  Deksels hoekom bloos sy soos ‘n skoolmeisie.  Dominiq vind dit weer baie mooi as sy so bloos.  Wys jou net sy is nie heeltemal onaangeraak deur hom nie.  Dit is seker ‘n goeie teken.  Dalk maak hy tog meer vordering met haar as wat hy dink.  Die laaste oggend maak Mary-Ann ‘n groot ontbyt by hulle huis as afskeid vir die ander.  Sy roep Ariana om haar met iets te help in die kombuis, maar toe Ariana daar aankom is daar niks om te doen nie.  “Ariana, ek wil vir jou omverskoning vra dat ek in jou getwyfel het.  Jy was reg oor ons manier van opvoeding, maar dit is hoe ek ook opgevoed was.  Ek sien nou dit is verkeerd en ons gaan volgende week nog, ‘n terapeut sien saam met ons kinders, sodat ons kan leer om met mekaar te kommunikeer.  Wanneer ons oor vier maande kom kuier in Suid-Afrika sal ons hopelik ‘n volwaardige gesin wees.  Ek hoop net teen daai tyd kan ons ‘n verlowing of twee of dalk ‘n troue of twee vier.  Jaqueline is op die regte pad sien ek, maar kom trek jy nou ons ander neef ook vas asseblief?”  Ariana lag net en omhels vir Mary-Ann.  “Ai Mary-Ann ek is so bly vir julle part.  Dit gaan egter nie elke dag maklik wees nie nê.  Maar kom ek skryf my nommer vir jou neer.  As jy hulp nodig het of ‘n skouer om op te huil of selfs net te vertel hoe goed dit gaan, dan skakel jy my gerus.  Wat Dominiq aanbetref glo ek nie ons sal ooit bymekaar uitkom nie.  Ek en hy verskil darem ook soos dag en nag.  Hy is altyd in die kollig en ek haat dit. So ja moenie drome begin droom oor ons nie.”  Mary-Ann hou haar terug toe sy wil loop.  “Nee Ariana, gaan jy wragtig dat die een man wat jy liefhet deur jou vingers glip oor hy altyd in die koerante is.  Dit is nie wat ek verwag het nie, jy stel my teleur.  Veg vir hom my magtig, julle is perfek vir mekaar en jou kinders is gek na hom. Ek verwag resultate as ek kom kuier nê.  Soos Kiara sal sê, jy is mos nie ‘n quitter nie,”  Hulle kom lag-lag by die kombuis uit en roep almal om te kom eet, maar sien nie hoe verbaas almal hulle aankyk nie.  Hulle was maar bra stig met mekaar die afgelope paar dae. 
Terug in Rome vat Don Mauritzio vir Nicolae en Kiara op ‘n uitstappie, maar voor hulle vertrek is hy by Dominiq in sy studeerkamer.  “Jy weet vir ‘n warmbloedige latynse man is jy maar vrekkerig.  Genugtig, ek dog ten minste ons gaan vanaand iets hê om te vier.  En hier kom julle doodluiters aan en dit lyk nie of julle eers van mekaar bewus is nie. Wat gaan aan?  Of moet ek nou nog op my oudag vir jou ‘n vrou soek ook?”  Dominiq wil lag, maar hy weet sy Pa sal niks daarvan hou nie.  “Papá, die probleem is hier is altyd te veel mense om ons.  Ons kry nooit regtig ‘n geleentheid om alleen te wees nie.  Jy weet nie hoe in die versoeking ek was om haar te ontvoer nie.  Sy staan nie onverskillig teenoor my nie, dit weet ek darem.  Ek het ook gedink ons sal vanaand iets hê om te vier.  En ons gaan, al is dit nou nie my verlowing nie, dink ek darem my Broer het tot sy sinne gekom.  Hy praat van huis opsit en spesialiseer in Suid-Afrika.”  Dit laat sy Pa darem glimlag.  “Ag ek sal so bly wees, ek en Ada was so bang hy voeter weer Bosnië toe.  Genadiglik het sy en Jaqueline se paaie weer gekruis.  Sy het nie meer familie nie, ons is al familie wat sy ken.  Hulle paaie stap al saam van laerskool af, hulle hoort bymekaar.  Maar jy... jy is nog lank nie uit die moeilikheid uit nie.  Ek en jou Ma soek vir Ariana vir ‘n skoondogter en nog kleinkinders.  Jy beter opskud, jy is ‘n vrotsigge vryer.”  Die kinders staan om die hoek en lag agter hulle hande toe die Don daar uitstorm.  Hy wag ook net toe hulle drie in die motor is, toe bars hy kliphard uit van die lag.  “So ek het hom goed vertel hoe vrot hy is, hoop nie ek het nodig om julle Ma ook vas te vat nie.”  Die kinders kan net lagtrane afvee.  Hy is eintlik heel kostelik vir so statige ou man.  Die uitstappie was ‘n groot sukses en die kinders is skoon uitbundig aan tafel die aand oor alles wat hulle gesien en gedoen het.  Dit is ‘n gelag en deurmekaar gesels nadat Rodrique sy en Jaqueline se verlowing aangekondig het.  Dominiq sit regoorkant Ariana en knipoog sowaar vir haar toe sy opkyk.  Sy bloos en kyk weg, maar kyk weer terug.  Dit is asof sy nie kan wegkyk nie.  Hy trek haar soos ‘n magneet, sy sal sowaar so gou as moontlik ‘n plan moet maak om baie besig te raak in Suid-Afrika dat sy hom ten alle koste kan vermy, of sy gaan op haar gesig val voor haar kinders en voor die media.  Want waar Dominiq is, is die media. 
Voor ontbyt is Ariana op en sit ‘n rukkie op die patio met ‘n glas lemoensap, toe Clare die koerante inbring.  Die eerste een wat sy optel het ‘n foto van haar in Dominiq se omarming in die kapel se deur waar hy haar soen.  Net jammer die foto kan nie wys dit was sommer net ‘n vinnige soentjie nie.  Dit lyk na ‘n ordentlike omhelsing en die opskrif sê: “Is die Suid-Afrikaanse weduwee hier om dowe neute?”  Die artikel wei uit oor Ariana en haar kinders en of sy hier was om aan haar aanstaande skoonouers voorgestel te word.  Sy wil die aapstuipe kry toe die volgende koerant se skinderkolom fotos van haar en Dominiq in Sicilie op die strand hand aan hand, binne restaurantjies en ook fotos van hulle klomp waar hulle braai by sy huis en hy op haar stoel se armleuning sit met sy arm om haar skouers.  Genade het die Italianers dan niks anders om te doen, as om Dominiq te volg en te kyk wat hy doen nie.  Daar moet iemand anders wees om te beloer.  Daar is ‘n paar kleiner berigte ook oor befaamde model Jaqueline Facetti wat met Rodrique Dominiq se tweelingbroer uitgaan.  Maar niks so erg soos die bespiegelinge oor haar en Dominiq nie.  Dominiq staan al geruime tyd in die deur en kyk na haar.  “Bon diaz cara mia, jou gesig spreek boekdele so ek aanvaar ons pryk weer op elke koerant se voorblad en in elke skinderkolom.”  Hy gaan nonchalant sit en vou die koerant oop.  “Mmmmm....’n baie mooi foto van jou hierdie een op die strand waar jy skilder, die fotograaf was redelik naby en ons het hom nie gewaar nie.  Hy is baie goed hoor.  Ek sien hulle gewoonlik op ‘n myl.”  Sy kan nie glo hy is so rustig daaroor nie.  “Liewe hemel Dominiq hoe kan jy so rustig wees terwyl jou privaathied so geskend word.  Ek sweer as hul kan sal hul elke ding wat jy eet noem en bespiegel of dit die rede is hoekom jy so goed lyk.”  Dominiq is vreeslik geamuseer deur haar tirade en sy sien hoe hy skud van die lag.  “Jy moet hoop ‘n fotograaf was nie nou naby nie, want kan jy die onderskrif al sien.  Dominiq Scarlatti sit kalm en geamuseerd agteroor terwyl befaamde skilder Ariana Caruso hom invlieg en armsswaai vir ‘n vale. Miskien argumenteer hulle oor die grote van die diamant.”  Hy lag nou openlik en die ander wat net by die deur uitkom en alles gehoor het is net so hard aan die lag.  Sy vervies haar liederlik  “Ag gaan vlieg jy en almal na die maan.  Ek wens ek was al terug in Suid-Afrika, daar sal die koerante seker nie heeltyd op my spoor wees nie.”  Sy gaan sit so ver as moontlik van Dominiq af tot groot vermaak van die kinders. Dit is egter Dominiq wat haar verder die harnas injaag.  “Ariana mio amor, dit help nie jy skop teen die prikkels nie.  Die koerante en almal om jou sien net raak wat jy weier om te sien.  Kalmeer nou en eet jou kos, dit is nie goed om so opgewonde te raak voor ontbyt nie.  Maar ek moet jou waarsku, die koerante in Suid-Afrika gons net so oor ons.  Ek het my kantoor geskakel vanoggend en my sekretaresse het dit beaam.”  Sy gee hom ‘n vies kyk en peusel net aan haar ontbyt.  By die lughawe gons die kameras en toe hy haar uithelp uit die motor, vra ‘n voorop die wa koerantman of Dominiq nie kommentaar op al die bespiegelinge wil lewer nie.  Dominiq draai om met sy arm om Ariana vol na die kamera toe en glimlag breed.  “Wat kan ek sê my vriend, julle maak in elk geval julle eie afleidings.  Ons het niks om ons oor te skaam of om by te voeg nie.  Verskoon ons asseblief, ons het ‘n lang reis wat voorlê.”  Ariana wag ook net tot in die vliegtuig.  “Is jy besete, hoekom help jy die mense nie reg nie? Dit was nou jou kans.  Hulle skinder oor iets wat nie daar is nie.  Hulle laat dit klink of ek een of ander minnares van jou is.”  Hy neem haar en laat haar sit, dan neem hy voor haar plaas en vat haar hande in syne.  “Ari cara mia, dis die media en hulle verdraai alles wat mens sê.  Ek sê dalk net iets wat dit alles vir jou erger maak en dan sal jy nooit weer saam met my gesien wil word nie.  Jy gaan te bang wees vir skinderstories.  Miskien moet jy eerder probeer om daaraan gewoond te raak, hulle bespiegelings is nie so ver uit die kol uit nie.  Ek is nie van plan om te verdwyn uit jou lewe nie en ek sal nie toelaat dat jy uit my lewe verdwyn nie, al probeer jy hoe hard.  Soos Kiara altyd sê get over it, get used to it and make peace with it.”  Dan staan hy op en maak seker die twee kinders is gemaklik en kom sit weer langs Ariana.  Hy maak eers haar en dan sy sitplekgordel vas en wanneer die vliegtuig begin beweeg op die aanloopbaan, vat hy haar hand in syne en sit met haar hand so in syne op sy skoot.  “Ontspan Ari, ons is nou in die lug.  Niks sal fout gaan nie en hier is geen media om elke beweging van ons dop te hou nie.”  Sy bly net so sit en maak haar oë toe.  Sy moet liewers nie iets sê of vir hom kyk nie, net-nou begaan sy ‘n moord hier in die lug.

Scarlatti's boek1 Tweede Kans Vir ArianaWhere stories live. Discover now