Vrotsige vryer met 'n swakplek vir sjiffon.

174 6 0
                                    

HOOFSTUK 7

‘n Week na Dominiq in sy nuwe huis ingetrek het kom hy die middag huistoe om Rodrique en Jaqueline op sy stoeptrappie te kry sit.  Hy is so bly om hulle te sien, die alleenheid in hierdie groot huis het hom begin vang.  Hy het verlede week vir Ariana belowe die week vat hy haar na die volgende projek wat sy moet doen naamlik sy bosveldplasie toe, maar daar het soveel afsprake voorgeval hulle het mekaar nog net een maal weer vlugtig gesien toe sy haar tjek by sy kantoor moes kom haal het.  Hy was nog nooit so bly om sy Broer te sien nie.  “My magtig, en wat dra die kat vanaand hier aan.  Sjoe ek is bly om julle te sien.  Die groot huis begin my knel na net ‘n week alleen.”  Die ander twee lag heerlik.  “Maar dan sal jy seker nie omgee om ons twee vir so maand of twee te huisves nie nê?”  Dominiq sluit oop en nooi hulle binne, hy gooi sy tas net eers in die studeerkamer en hang sy baadjie op.  Daarna nooi hy hulle saam kombuis toe.  Hulle is in vervoering en Jaqueline kan nie ophou praat oor die huis nie.  “Dominiq ek dink jy sal moet trek, ons koop hierdie huis by jou en jy kry vir jou ‘n klein woonstel naby jou werk.  Ek wil hierdie huis hê.”  Hy skud sy kop dadelik.  “O nee, vergeet daardie plan maar.  Koop die Italianers hier langsaan se plot en verander die huis dat hy jou pas.  Hierdie huis is myne.  Ariana het nie verniet haar stempel hier afgedruk nie.  Wat sy nie weet nie is dat sy nog hier gaan kom bly een van die mooi dae.”  Hulle sit later met hulle koffie en ontspan in die gesinskamer terwyl Rodrique hom inlig van hulle groot planne.  “Ons het ons immigrasie papiere gister laat doen terwyl ons nog in die stad was.  Volgende op ons lys is ‘n huis, daarna ‘n spreekkamer vir my.  Jy sê die Italianers langsaan wil verkoop, dink jy ek kan net direk na hulle toe gaan en hoor?”  Dominiq weet die plek is te koop en gelukkig ken hy die mense.  “As julle wil skakel ek vir Romero, dan gaan kyk julle na die plek.  Ek het ‘n baie goeie argitek en bouer soos julle kan sien en ek ken ‘n ongelooflike binnesversierder.”  Rodrique ken sy broer en weet hy sal nie gebruik maak van onbekwame mense nie en vir Ariana ken hy darem ook en kyk net wat het sy met die huis gedoen.  “Nou goed dan maak ons so, maar wanneer gaan haal jy vir Ariana en die kinders?”  Dominiq is seker Ariana gaan ‘n storie uitdink om hom nie te sien nie. En boonop weet hy dit is ‘n weeksaand.  Sy ry nie rond op weeksaande nie.  “Ek sal haar seker eers more sien en kan probeer om haar te oorreed om hier te kom eet.”  Rodrique lyk of hy iets wil oorkom.  “My magtig Dominiq hoe is jy van plan om haar te oorreed om met jou te trou as jy nie gereeld kuier en haar uitneem nie.  Die kinders is al groot en ek is seker hulle sal verstaan dat jy soms met haar wil alleen wees. Jy kan nie verwag om eendag en lyk my baie ver in die verskiet se eendag, vir haar te vertel jy het haar lief,  maar jy gee geen spesiale aandag aan haar nie.  Jy is die vrotsigste vryer wat daar is.”  Dominiq vervies hom.  “Nou wat de duiwel moet ek doen?  Sy is altyd besig.  Selfs met die huis en my kantore se binnesversiering het ek haar amper nooit gesien nie.  Daar is altyd iets wat voorval.  Die week sou ek haar na my bosveldplaas geneem het, sy gaan die binnesversiering doen en dit het ook nie gerealiseer nie want ek en sy het vergaderings op vergaderings gehad.  In die middae is sy soms tuis by die kinders as sy nie by die gallery is nie.  Lyk my ek sal haar moet ontvoer as ek haar onverdeelde aandag wil hê.”  Jaqueline lyk skielik asof sy aan iets dink en sy spring dan ook regop.  “Maar natuurlik, dis ‘n fantastiese plan.  Met ons hier kan die kinders vir ‘n week by ons bly.  Hulle sal nog help om haar te ontvoer ook.”  Nou moet Dominiq keer vir ‘n vale.  “Stop!  Jaqueline stop, moenie eers daaraan dink nie.  Wat doen ek die heel week met haar as ek haar ontvoer?”  Voor hy verder kan praat bars die ander twee dit uit van die lag.  “O Dominiq  jy is te kostelik.  Ek kan vir geen oomblik glo my warmbloedige Italiaanse Broer weet nie wat om met ‘n baie mooi en begeerlike vrou te doen vir ‘n hele week lank nie.  Sê net gou vir ons, is julle vriendskap regtigwaar net platonies of steek daar waarheid in die koerante se bespiegelinge”  Dominiq verkleur effens tot groot vermaak van Rodrique.  “Vir julle informasie, ek en Ariana is regtig net vriende.  Sy is sku vir enige intieme kontak na Caruso.  Ek is bang ek verskrik haar as ek te vinnig meer as net vriendskap wil hê.  Ek moet bieg die enkele kere wat ek haar sien, maak ek ‘n punt daarvan om haar ordentlik te groet, maar dit lyk net asof dit niks vir haar beteken nie.  Verstaan my mooi sy is nie koud teenoor my nie, maar vreeslik versigtig.  Wanneer ek ‘n vertrek inkom en sy is daar kyk sy dadelik op en lyk gewoonlik bly om my te sien, maar dan skuif daar ‘n waaksaamheid oor haar gesiggie en kan ek nie raai wat presies sy dink nie.”  Jaqueline sit diep ingedagte voor sy na die mans kyk en iets sê.  “Nou goed, ek is ook ‘n vrou en ek dink ek verstaan hoe haar kop werk.  Kom ek nooi haar om saam my te gaan inkopies doen en natuurlik na Juan-Paul te gaan vir my trourok.  Dalk kan ek agter die kap van die byl kom as dit net ons twee is.  Wat sê julle ek skakel haar sommer nou?”  Die mans besluit dit is dalk die enigste manier om agter te kom hoe sy oor Dominiq voel.  Die foon lui ‘n hele rukkie voor Ariana antwoord.  “Hallo Ariana hier.”  Sy klink uitasem.  “Hallo Ari dit is Jaqueline, ons is uiteindelik in Suid-Afrika.”  Ariana is bly om van haar te hoor.  Hulle het goeie vriendinne geword in Italië.  “Man maar ek is bly.  Nou begin die huissoektog seker en jou trourok wat jy wil laat maak.  Maar waar is julle tuis?”  Jaqueline lag sameswerend en stap kombuistoe met die foon.  “Ons het maar vanaand hier op Dominiq se trappie kom sit tot hy hier aangekom het.  So vir die volgende twee maande dalk bietjie minder lê ons op sy nek.  Nie dat hy omgee nie, hy was regtig bly om ons te sien.  Hy sê vir die eerste keer in jare vang die alleenheid hom vreeslik as hy saans huistoe kom.  Maar ek skakel eintlik oor ek vroulike hulp benodig.  Wil jy nie groot asseblief saam met my na Juan-Paul toe gaan nie.  En my help met inkopies, ek kort ‘n maklike resepteboek en natuurlik wil ons jou vra om ons huis se binnesversiering te doen.  Ek is ‘n nul op ‘n kontrak met dit.”  Ariana voel half opgewonde maar sy hoop nie sy gaan baie van Dominiq sien nie.  Tot haar loutere skok het sy verlede week met die ete by sy huis besef sy is so verlief op hom sy weet nie watter kant toe as hy naby is nie.  Hy maak haar so senuweeagtig soos toe sy ‘n tiener was, daarom vra sy versigtig:  “Miskien moet ek en jy sommer more na Juan-Paul toe gaan en vir jou ‘n resepteboek kry, dan sodra julle die huis kry waarna julle soek, gaan ek en jy dan neem ons opmetings en help ek jou waar ek kan.  Op die oomblik kom ek en Dominiq nog nie bymekaar uit om sy bosveldplaas se huis te bespreek nie.  So dit moet maar wag tot ek en jy eers klaar is.”  Jaqueline tel die manier op wat sy Dominiq se naam noem, sy het definitief ‘n sagteplek vir hom.  Nou moet hulle haar en Dominiq net aanpor.  “Nou goed, maar ek sal ‘n drywer nodig hê, sal jy my asseblief dan more hier kom oplaai?”  Ariana kan nie weier sonder om te verduidelik nie.  “Goed wat van so agtuur, Juan-Paul is altyd vroeg in en ek skakel hom sommer nou vir ‘n afspraak.”  Hulle groet en lui af.  “Dominiq hoe vroeg gaan jy werk toe more?”  Sy stap die gesinskamer binne met ‘n geheimsinnige glimlag.  “Ek ry gewoonlik seweuur, ek het vir Rodrique die ander motors se sleutels gegee, julle is dus nie gestrand nie.”  Sy beduie baie dramaties met die hande.  “O nee senor Scarlatti, jý ry môre oggend nie voor agtuur nie.  En ek mag nie self ry nie want ek het nie ‘n internasionale lisensie nie, Ariana kom my agtuur oplaai.  Nou vir jou opdragte, nommer een, jy gaan die deur oopmaak as sy hier kom, en haar ordentlik môre sê, want soos altyd gaan ek ‘n bietjie laat wees.  Nommer twee, jy gaan haar laat voel dat sy belangrik is vir jou, nommer drie jy nooi haar vir ete hier by die huis saam met haar kinders.  Jy reël egter agteraf met Nicolae-hulle om iets anders te kry om te doen vir die aand.  Ek en Rodrique gaan egter en laai hulle op skaatsbaan of fliek toe of enige so iets, sommer saam ‘n klomp van hulle vriende om dit geloofwaardig te maak.  Vir haar sê jy ons het gaan huise kyk en toe vasgeval by ander Italiaanse vriende.  Julle eet dus alleen, jy maak vir haar haar gunsteling ete en jy vry haar warm. En dit is ook ‘n opdrag, die vryery nou bedoel ek.”  Dominiq begin lag, hy vee eintlik trane af.  “My liewe Broer jy trou met ‘n monster, jy is in vir ‘n baie interessante huwelikslewe.  Soos Kiara sou sê sy gaan jou rule met ‘n ystervuis.  Nou ja nag julle, julle moet lekker slaap. Klink my ons gaan ‘n opwindende dag tegemoet.”  Dominiq hoop maar alles werk volgens plan.
Die volgende oggend klokslag agtuur hou Ariana voor die huis stil, sy het so gehoop Jaqueline is gereed en kom dadelik uit dat hulle kan ry.  Hopelik is Dominiq sy gewone pligsgetroue seweuur al hier uit.  Sy is geklee in ‘n fleurige aguakleurige chiffonromp en baie vroulike roombloesie met ‘n ordentlike handsak en hakskoene, sy wil darem nie die modehuis instap vanoggend en sleg afsteek by Jaqueline of die modelle nie.  Sy lui die klokkie en toe die deur oopswaai is sy nie reg vir die gesig wat haar groet nie.  Dominiq in sy pakklere se broek, sonder kouse en skoene, hemp aan maar nog nie toegeknoop nie.  Dit is nie iets wat sy op haar nugter maag behoort te sien nie.  Sy staar letterlik na hom.  Hy leun teen die kosyn aan en lyk vreeslik geamuseerd terwyl hy haar behoorlik op en af beskou.  Genade hoekom is die man vanoggend so tipies warmbloedige latyner dat hy haar so kyk.  Sy voel hoe sy warm word van haar tone tot haar kop.  En die rooihare help natuurlik net dat sy bloos.  “Mmm..em..môre Dominiq, ek.....e..ek het net vir Jaqueline kom oplaai.”  Hy tree weg van die kosyn af, meer op die stoep uit en laat die deur effens toeswaai agter hom.  Dan steek hy sy hand uit en omvou haar wang met sy hand terwyl hy haar nader trek aan hom.  “Bon diaz cara mia, jy is natuurlik die lieflikste gesig om so vroeg in die môre te aanskou, maar nou het jy nog ‘n romp ook aan vanoggend.  Weet jy wat dit aan my doen so vroeg in die oggend om jou in chiffon gehul te sien?  Jy laat my skoon vergeet dat ek nog moes aangetrek het vir werk.”  Hy trek haar heeltemal teen hom en sy probeer keer met haar hande maar in die proses land haar hande net op sy kaal bors en toe is dit te laat.  Hy soen haar met soveel passie dat sy heeltemal vergeet hulle staan op die stoep.  Hy verdiep net die soen en sy gee glad nie om nie, sy is in ‘n ander wêreld tot Jaquleine se stem hulle tot die hede terugruk toe sy Rodrique groet.  Dominiq los haar nie dadelik nie, maar vee met sy duim oor haar vol lippe.  “Wat doen jy aan my Ari?  Ons moet praat ek en jy.  Kom eet vanaand saam met ons asseblief.  Ek sal julle kom haal en terugneem anders kan julle net sowel hier slaap as ons te laat kuier.”  Sy weet sy moet eerder nee sê, maar hy vra so mooi, sy kan hom nie weier nie.  “Ons sal kom dankie, maar ek ry sommer self.” Jaquline storm die deur uit en amper vas in hulle twee.  “Skuus man Ariana dat ek jou laat wag het.  Maar ek het skoon verslaap.” Sy maak of sy nie sien hy hou Ariana nog vas nie.  Hy laat haar stadig gaan en buk dan vooroor en soen haar weer vlugtig.  Sy bloos bloedrooi en terwyl sy die trappe afstap kan sy sweer sy hoor hom saggies lag.  In die kar is sy eers bietjie verstrooid tot Jaqueline se vermaak.  “Ai Ari dat die man jou nou so verward kan maak.  Hy is natuurlik een van die sexieste mans wat ons ken nê.  Ek kan nie wag vir my troue nie weet jy.  Ari, Dominiq vrek oor jou”  Ariana begin net weer haar varkies op hok kry toe hulle die stad nader.  “Ek weet nie Jaqueline, my Ma het altyd gesê Dominiq is moeilikheid op twee bene.  By hom kan geen vrou veilig wees nie.  En ek begin dink my Ma was reg.  Hy maak mens deurmekaar en hy stuur sulke gemengde seine uit soms, dit is moeilik om hom te peil.”  Jaqueline lag te heerlik.  “Nee Ari nie ‘n mens nie, jý.  Ek het jou al dopgehou.  Jy raak skoon betokkeld as hy net naby jou is, wat nog te sê as hy jou vashou.  Magtig man, laat gaan ‘n slag, moenie vir my sê jy voel absoluut niks vir hom nie.”  Sy het net die motor parkeer en sit nog so met haar hande op die stuurwiel.  “Nee Jaqueline ek sal nie lieg en sê ek voel niks nie.  Ek raak eintlik bang as ek besef ek voel hopeloos te veel vir hom.  Hy kan my breek weet jy.  Dominiq het definitief die mag om my baie seer te maak en dit gaan nie net my raak nie, maar my kinders ook.  Kom ons gaan kyk hoe lyk jou rok.”  Hulle geniet die inkopies en Juan-Paul het natuurlik klaar vir Ari ‘n rok van sysagte perke kleurige chiffon met krale geborduur op die bostuk en onder om die soom met dun veterbandjies ook natuurlik geborduur met krale.  Dit is ‘n fantastiese rok en Jaqueline is in vervoering.  Haar rok het ‘n soortgelyke snit maar met klein moutjies aan en is van spierwit bruidssatyn met ‘n lansleep agteraan.  Die hele rok se soom en sleep is met die mooiste kant afgewerk.  Die rok was gemaak sonder dat hy haar gesien het, hy het net haar mates van ‘n ander modehuis bekom en die prentjie wat sy hom gestuur het saam met Ari.  Dit pas haar egter soos ‘n handskoen en Juan-Paul is in vervoering.  “Absolutely perfect, ek is gek daarna om rokke vir girls met sulke ongelooflike lywe soos julle te maak.  Ariana’tjie my darling wanneer bring jy daai lieflike wese wat jy jou dogter noem sodat sy haar rok kan pas.  Jy weet die strooimeisie gaan baie aandag trek.  Sy het ‘n belangrike werk op die groot dag.  Ek is net bly julle trou nie in rooi nie, want dit sou horrible gelyk het saam met haar hare.  Die mintgroen en perske is net die kleur, dit pas julle albei ewe goed.  Min dat mens so goeie kombinasie in ‘n bruid en strooimeisie kry.”  Ariana geniet dit altyd by Juan-Paul, hy is baie reguit maar hy is net so goed met komplimente uitdeel.  “Juan-Paul, Kiara is seker net vanmiddag en die naweek vry.  Jy weet hoe gaan dit met skool en die leiers moet mos vir elke gedoente  teenwoordig wees.  Ek sal eers moet hoor wanneer volgende week kan ek haar losskeur van die skoolverpligtinge af.”  Juan-Paul beduie woes.  “Nee my darling, ek weet dit gaan rof, maar jy kan haar môre oggend bring as julle tyd het, ek is mos hier tot twaalfuur.  Meer as genoeg tyd, ek is seker ek gaan nie eers een verstelling hoef te doen nie.”  Ariana weet hy is besig so sy sal Kiara maar druk om môre oggend te kom.  “Nou goed dan maak ons so, ons sien jou dan môre.”  Jaqueline oorreed Ari om saam met haar te gaan koffie drink voor hulle huistoe gaan, dit is darem nou eers tienuur.  By ‘n klein restaurantjie neem hulle buite op die stoep plaas en bestel sommer koffie en ‘n lekker stuk koek.  “Hemel jy weet net nie hoe lekker is dit om te eet en nie bekommerd te wees oor gewig nie.  Ek geniet nou eers my kos regtig.  Ek het uitgemis vir jare.”  Ari lag net en sit heerlik agteroor en luister na Jaqueline se gebabbel.  “Ek kan dieselfde sê, in my geval is dit net dat dit heerlik is om hier te sit saam met ‘n vriendin en koffie drink sonder dat jy bang is jou man gaan uitvind en jou spandabelrig noem en dan moet jy die gevolge dra.”  Sy is spyt na sy dit gesê het.  Dit is ‘n tyd wat sy nie wil onthou nie.  Jaqueline gee haar hand ‘n drukkie.  “Ari, Dominiq is nie so nie jy weet dit nê?  Moenie oor jou verlede bly vasskop teen jou gevoel vir hom nie.  Moenie hom straf vir Caruso se sondes nie.”  Ariana het eintlik ‘n knop in haar keël.  “Jaqueline ek weet, maar ek is bang ek is nie wat hy wil hê nie en dan vind hy dit te laat uit.  Christopher het altyd gesê ek is ‘n koue vrou met geen passie nie.  Hy het beweer dit is daarom dat hy sy plesier by ander warmbloedige vrouens soos Lucille gaan soek het. Ek weet nie hoe ek my verlede vir Dominiq moet vertel nie. Hy weet nie van my slegte huwelikslewe nie.  Hy en almal glo dit was hierdie fairy-tale huwelik.  Dis net Rodrique en my eie ouers wat dit weet.”  Jaqueline voel sy kan moor, die blikskottel kan bly wees hy is reeds daarmee heen, want anders sou sy hom persoonlik uit die lewe gehelp het.  “Ariana jy is nie ‘n koue vrou nie.  Jy is passievol, jy moet net die regte man aan jou sy hê.  En glo my Dominiq is daardie man en hy sal verstaan as jy hom vertel.”  Ariana drink haar koffie klaar en sit net rustig terwyl Jaqueline oor allerhande huisgoed gesels.  Dit is naby aan twaalfuur toe hulle die restaurant verlaat, maar te laat die fotograwe sien op die sypaadjie.  Hulle is met spoed kar toe, alhoewel die kameras aanhoudend flits.  Altwee voel skoon vies dat hul middag so moet eindig.  Die middag is die kinders nie lank by die huis nie, of Nicolae kom vra of hulle en ‘n klomp maats kan gaan ysskaats en fliek die aand.  Sy wil eers nee sê, maar besluit hulle sal dit dalk meer geniet as die ete tussen volwassenes.  Daarom skakel sy Dominiq en maak verskoning vir hulle drie.  Hy is egter nie daarvoor te vinde nie.  “Ariana maar jy kan steeds kom, hoekom wil jy by die huis sit heelaand en wag.  Hulle kan mos ‘n sleutel neem en self ingaan en in daai geval weier ek dat jy alleen ry.  Ek kom haal jou en vat jou terug en dit is klaar.”  Sjoe maar hy is streng met haar vanmiddag.  Sy wonder of hy vies is oor iets.  Hy klink kort-af.  “Ai Dominiq jy het ook altyd ‘n antwoord vir alles.  Maar goed, dan maak ons so.”  Voor sy aflui gee hy eers nog ‘n laaste opdrag.  “En Ariana, trek ‘n rok aan, groot asseblief, vir my.”  Die kinders is baie opgewonde en is daar weg saam ‘n paar maats net voor sesuur.  Ari weet nie wat om aan te trek nie en besluit maar op ‘n rok om Dominiq te plesier.  Hy sê mos hy is ‘n sucker vir ‘n sjiffonrok, so kom ons kyk wat maak hy vanaand.  Sy haal ‘n swart chiffonrok uit die kas, met ‘n kort baadjie daarby en mooi fyn swart sandale.  Haar hare kam sy op vir ‘n verandering en sy doen net liggies grimering.  Sy besef dit nie, maar sy lyk soos ‘n prentjie.  Dominiq lui die klokkie net toe sy in die sitkamer haar handsak neersit.  Toe sy die deur oopmaak is hy geklee in ‘n donkerpak en sy is bly sy het moeite gedoen met haar voorkoms, mens weet nooit of daar ander mense behalwe hy en Rodrique hulle gaan wees nie.  Hy staan botstil en sy oë word ‘n warm heuningkleur.  Hy kyk van haar fyn sandale tot haar kroontjie en fluit saggies deur sy tande.  “.... ek dink jy kan bly wees Rodrique hulle is vanaand teenwoordig.  Want ek en jy en die sjiffonrok is ‘n gevaarlike kombinasie.”  Hy trek haar nader en soen haar lank en dringend voor hy haar laat gaan.  “Ari cara mia, kom ons ry liewers voor ek myself vergeet en jou net hier by jou huis hou.”  Hy sluit die deur en toe hy haar in die lae swart sportmotor help gly sy hand oor haar been toe hy haar rok met sorg uit die deur vat.  Hy laat dit egter alles normaal lyk.  By sy eie huis vat hy haar hand en stap hulle van die motorhuis na die huis sommer by die swembad se kant in.  Op die tafel lê ‘n nota.  Hy sien dit en lees dit vinnig deur.  “Rodrique en Jaqueline het net gou ‘n paar huise gaan kyk, dit is al tyd wat die eiendomsagent het, sal ons solank bietjie wyn drink?  Kom gee jou baadjie en handsak dan sit ons dit sommer hier eenkant.  Daarna kan ek met die pasta begin.”  Hier kom moeilikheid as hy daai rok so kyk sonder die baadjie, die rug is laag oop en haar vel lyk soos satyn.  Hy konsentreer liewers op die wyn terwyl sy die glase uithaal.  “Waarmee kan ek jou help, ek kan nie net so rondstaan nie.”  Hy vat haar aan die hand en trek ‘n stoel langs die tafel uit en laat haar sit.  “Jy cara gaan net hier sit en mooi lyk en my wynglas volhou.  Ek maak die kos vanaand en jy ontspan.”  Sy kan dit nie glo nie.  Hier moet sy sit en toekyk  terwyl die sexieste man wat sy ken vir hulle kos maak.  Sy besluit om maar oor die werk aan die bosveldplaas te praat, dis darem veilige terrein.  “Wanneer dink jy gaan ons tyd kry om jou bosveldhuis te gaan bekyk, dat ek darem ‘n idee het van hoe dit lyk?”  Hy kyk vinnig op en gaan dan weer aan met werk.  Hy moet liewers nie vir haar kyk nie, sy is op hierdie oomblik ‘n gevaar vir sy vingers.  “Ek het self gewonder daaroor, maar skielik is die duiwel mos los by die werk.  Lyk my die mense hou so baie van my gebou dat elke janrap en sy maat skielik kontrakte met ons wil sluit.  Ek is veronderstel om Maandag Kaap toe te vlieg vir samesprekings en dink jy ek het lus daarvoor.  Ek moet bieg ek bly liewers op kantoor, ek dink juis daaraan om vir my ‘n ordentlike bestuurder aan te stel wat die beheer kan oorvat dat ek meer tyd vir ‘n persoonlike lewe het.  Soos dit nou gaan leef ek amper by die kantoor en kry ek nie eers tyd om my nuwe huis behoorlik te geniet nie.”  Sy weet hy hardloop vreeslik rond, Roy het haar vertel verlede week toe sy haar tjek gaan haal het.  “Ek het agtergekom toe ek daar was verlede week, die mense het soos miere rondgehardloop.  Roy sê toe, julle werk julle byna dood om al die nuwe kontrakte te hanteer.  Miskien moet jy my die koördinate gee, dan ry ek en Pierre eendag in volgende week soontoe.  Dan kan ek solank fotos neem uit alle hoeke en my konsepbeplanning doen om aan jou voor te lê.  Dit sal baie makliker wees as om te wag tot ons altwee tyd oop het op dieselfde dag.”  Dominiq weet dit maar hy sou baie graag saam met haar wou gaan, solank sy net nie alleen gaan nie sal hy maar moet instem, daardie plek gaan nog hulle honeymoon plek word sy weet dit net nie.  “Jy het ‘n punt daar beet, solank jy my belowe jy sal nie alleen soontoe ry nie.  Dit is ‘n hele ent se ry en daar is nog werkers besig met die swembad en die tuinuitleg.  Onthou dat ek net-nou vir jou al, die besonderhede en sleutels vir die hek gee.”  Sjoe sy dog nou net hy gaan kapsie maak.  Sy weet nie of sy enige langrit saam met hom in ‘n nou spasie sal oorleef sonder om ‘n gek van haar te maak nie.  “Ek belowe ek sal Pierre saamneem, hy het darem ook ‘n oog vir binnesversiering, hy help altyd as ek twyfel oor iets.”  Die telefoon lui en hy beduie sy moet antwoord terwyl hy besig is by die oond.  “Hallo....o hallo Jaqueline.  Wat... goed ek sê vir Dominiq.....nee moenie bekommerd wees nie julle sal die baie kos wat hy gemaak het, maar net vir die res van die naweek moet eet.  Tatta.”   Sy draai terug en sien gelukkig nie die glimlag op sy gesig nie, omdat hy met sy rug na haar staan.  “Kan jy nou glo, hulle het nou vasgehaak saam met die eiendomsagent en die nooi hulle toe vir ete en hulle wil nie rude wees nie en sê toe maar ja.  Ekskuus Dominiq dit is nie my plek om dit te sê nie, maar eintlik is hulle ongeskik.”  Hy draai om na haar toe met ‘n glimlag.  “Jy is reg cara hulle is ongeskik en gaan definitief die res van die naweek lasagne eet, maar ek gee nie om nie.  Dink jy vir een oomblik ek verkies hulle geselskap bo joune.  Wys jou hoe min weet jy.”  Hy knipoog vir haar en begin die kos tafel toe dra.  Daar is gedek vir vier, maar hy pak die ander twee s’n vinnig weg en skuif hulle twee s’n bymekaar.  “So ja nou kan ek ten minste al jou aandag hê net vir myself.”  Sy sê liewers niks nie, maar gee net haar hand dat hy die seën kan vra.  Sy maak haar oë oop na hulle klaar gebid het en wil haar hand wegtrek, maar hy hou dit stywer vas.  “Cara mia ek hoop jy gaan lekker eet, ek het jou gunsteling gemaak oor ek geweet het jy kom.  Dankie dat jy hier is.  Ek het natuurlik ‘n sonde om my hande van jou af te hou, maar ek belowe ek sal my gedra.”  Sy bloos en besluit sy moenie so met ‘n mond vol tande sit nie, sy moet hom op sy plek sit.  “Mmmm die kos gaan vorentoe smaak, ek ken mos al jou lasagne en slaai.  En gelukkig het ek nie ‘n probleem met my hande nie, so ons is seker doodveilig bymekaar.”  Hy skater van die lag.  “Dis die eintlike probleem cara, ek sou glad nie omgegee het as jy ook ‘n probleem met jou hande gehad het nie.”  Genade hy is haar net eenvoudig altyd een voor.  Na ete pak hulle die skottelgoed in die wasser en sy maak vir hulle koffie wat hy gesinskamer toe dra vir hulle.  Sy sit salig agteroor en beskou hom waar hy gebukkend staan en ‘n laserskuif vir hulle opsit.  Hy vang haar egter dat sy na hom kyk en kom sit ewe langs haar op die sofa.  “Hierdie is seker die beste ding wat jy kon koop, dis nou behalwe daardie kolosale bed van my.”  Hy sit half skuins en bekyk haar openlik.  “Ek kom sit elke aand hier vir ‘n wyle na ete en dan raak ek sleg, voel of die sofa my insluk en ek net wil bly lê.  Laas dinsdag het ek eintlik hier aan die slaap geraak en toe ek wakker skrik is dit half twee.”  Sy lag saggies.  “Ek weet hierdie bank is ‘n groot sonde om te hê, ek kon geen banke kry wat by jou sal pas nie toe gaan ek na hierdie fabriek in Johannesburg toe vir die een.  In die vertoonkamer het ek elkeen getoets en tot groot vermaak van die werkers ‘n baie groot man wat daar was om meubels vir sy winkel uit te soek nader geroep om die een te toets.”  Dominiq loer deur sy wimpers na haar en kan nogal dink hoe daai mans haar bekyk het.  “Die man het toe blykbaar met jou saamgestem oor die een.”  Sy glimlag en tik op die bank met haar hand.  “Hy het so getik op die bank en sê toe vir my: mevroutjie as my vrou met so bank by die huis aankom dra ek haar op die hande, maar sy gaan ook spuit wees, want van daar af gaan sy saans niks uit hierdie man kry nie.  Hierdie bank suig mens vas aan die agterstewe sonder dat jy hom deursit en kom wat wil jy sal baie swaar hier opstaan,  Hierdie is definitief ‘n wenner vir so groot man soos ek.”   Hy lag lekker maar die volgende oomblik vat hy haar hand wat op die bank tussen hulle lê en trek haar stadig om dat sy skuins oor sy bors val.  Sy lê alweer met haar hande op sy bors.  “Dominiq...”  Hy vou net sy arm om haar lyf en skuif so dat haar onderlyf tussen hom en die bank inval.  “Sjuut cara mia, ontspan, dit was ‘n lang dag en ‘n rowwe week.  Ek het die rustigheid saam met jou nodig vanaand.”  Sy begin ontspan en so raak hulle salig op die bank aan die slaap.  Rodrique maak nogal ‘n geraas toe hulle inkom, om Dominiq te waarsku hulle het geselskap.  Maar Jaqueline steek in haar spore vas in die gesinskamer se deur en beduie vir Rodrique om te kom kyk.  Ariana se een been is gerieflik oor Dominiq se bene gegooi en sy slaap met haar kop op sy bors.  Rodrique maak keelskoon en Ariana se oë vlieg oop.  Dominiq kom egter op sy elmboog en hou haar terug toe sy wil opspring en sy kan nie opkom sonder om ‘n gemors te maak nie.  “Mmmm... wat ‘n lieflike gesig om langs wakker te word, net jammer my Broer het geen takt nie.  Gaan weg julle twee pla ons.”  Rodrique en Jaqueline lag kliphard en gaan al giggelend kombuis toe.  Dominiq draai haar gesig na hom toe en leun vorentoe.  “Dit is die lekkerste wat ek in ‘n langtyd geslaap het.  Jy toor met my Ari.”  Hy soen haar totdat syself begin reageer en hom terugsoen.  Dan lig hy sy kop en kom regop met haar in sy arms.  “Ek moet ophou hiermee, ek speel met vuur cara, maar ek kan myself net nie keer nie.”  Rodrique-hulle het verdwyn kamer toe en Dominiq weet hulle sal nie weer gepla word nie, daarom liefkoos hy haar weer tot hulle uitasem is.  “Kom cara mia, ek gaan kop verloor en ek wil nie hê jou eerste keer met my moet op ‘n bank wees waar enige een op ons kan inloop nie.”   Ariana is skoon stomgeslaan en bloos bloedrooi.  Sy trek vinnig haar baadjie aan en klim tjoepstil in die kar.  Hy neem haar huistoe en by die voordeur soen hy haar weer passievol.  “Nag amore mio, droom van my.”  Hy maak die deur oop en stoot die verdwaasde Ariana na binne, hy waai en trek die deur agter hom toe.  Sy bly so staan en hoor die kinders gesels.  Sy besluit sy gaan liewers slaap, want haar kop draai behoorlik na daardie laaste soen en sy woorde daar op die bank en ook sy afskeidswoorde tref haar tussen die oë.  “Hallo julle, het julle dit darem geniet?”  Hulle hang by hulle kamerdeure uit en gesels gou vinnig met haar.  Dan onthou sy van Kiara se rokpassing.  “Kiara, Juan-Paul wag môre vir ons vir die passing van jou rok hoor, moenie te laat gaan slaap nie.” Kiara trek ‘n gesig.  “Ok mams roep my maar vroeg ek dink nie ek gaan self vroeg opkom nie.  Dit is darem al half twee.”  Sy lag te lekker toe sy sien hoe haar Ma vinnig op haar horlosie kyk.  “Goeiste, ek het dit nie eers gesien nie.”  Sy vlieg om en gaan haar kamer met ‘n spoed binne tot groot vermaak van Kiara en Nicolae.  Dekselse geslapery op daai bank het alles nou omgekrap.
Die volgende oggend is Kiara op haar stukke oor die mintgroen rok wat so mooi sit.  Nicolae se onderbaadjie en  strikdas is ook klaar en hulle vat dit sommer alles saam huistoe.  Ten minste is die strooijonker en strooimeisie se klere reg, dis net die bruidegom se onderbaadjie en das en die finale afwerkings aan die trourok wat gedoen moet word.  Daar is darem nog drie weke voor die troue, dus is Juan-Paul nie bekommerd nie.  Hy maak dit sommer nog die week klaar.  Jaqueline en Rodrique het die oggend die hoewe langs Dominiq besoek en besluit hulle koop.  Daar is ‘n paar veranderings wat gelukkig vinnig aangebring kan word en Jaqueline laat weet vir Ariana om haar die middag by die huis te kry dat hulle kan gaan kyk wat Jaqueline alles gaan benodig in die huis.  Die resepteboek het sy die oggend al gebruik toe sy vir die mans moes ontbyt maak.  Hulle het nie gekla nie, so hopelik was dit aanvaarbaar.  By die huis maak Ariana vir haar ‘n lys van meubels en gordyne en plante en kombuisgoed sodat sy en Rodrique kan gaan koop wat hul nodig het, maar Rodrique skop vas.  “O nee, ek huur jou as binnesversierder want ons gaan net stry in die winkels en met gemors terugkom.  Dominiq se huis is ‘n baie goeie voorbeeld van jou fantastiese smaak en kennis.  Al wat ek vra is ‘n stel soos Dominiq s’n in die gesinskamer en ‘n groot bed vir my langlyf.  Kleur is nie ‘n probleem nie, ek hou van swart, wit, beige, room, bruin, groen en terracotta.  Rooi enige plek behalwe ons slaapkamer.  Jaqueline kan jou sê waarvan sy hou of sy kan saam met jou gaan en die goed uitsoek.  Ek gee regtig nie om nie.  Ek soek net nie ‘n kliniese huis nie daarvan het ek genoeg wanneer ek werk.  ‘n Warm knus huis met baie potplante.  Hierdie plek se tuin is gelukkig klaar reg.”  Ariana is eintlik bly, want sy het klaar ‘n idee van hoe die plek moet lyk.  “Nou goed maar ek wil jou en Jaqueline dan gou na ‘n huis van ‘n ander kliënt van my neem en julle wys wat het ek in gedagte.”  Met die is hulle drie daar weg, terwyl die kinders nog by Dominiq kuier.  Hulle is mal oor die huis wat sy hulle wys en sy wys ook hoe sy hulle huis bietjie anders sal maak maar amper iets soortgelyks.  “Nee wat Ari, ek dink jy weet wat jy doen.  So Jaqueline en jy kan volgende week as ons die koop vinnig kan deur kry, maar begin regmaak.”  Rodrique is baie verlig om die groot projek op Ariana af te skuif.  Terug by Dominiq se huis is Ariana haastig, maar die kinders is besig om Pizzas saam met Dominiq te maak.  Al drie is vol meel en lag hulle byna dood toe Nicolae ‘n hele Pizza in die lug opgooi en vang. Dis Ariana wat eerste tot verhaal kom.  “Genade maar julle drie kan mors, ek hoop julle gaan opruim ook.”  Dominiq kyk op en die meel op sy wang laat hom soos ‘n stout seuntjie lyk.  Hy glimlag en begin die pizza pak met al die bestanddele op die tafel. Maar in dieselfde tyd antwoord hy haar.  “Ja Ma, ons sal skoonmaak as jy solank vir ons koffie maak asseblief.”  Die kinders begin giggel en bars dan uit van die lag. Ari lag ook maar net en begin koffie maak.  Rodrique en Jaqueline beskou die besigheid en gaan sit langs die tafel.  Dit word ‘n heerlike middag en aand met baie gelag en geterg om die tafel.  Ari kom nie eers agter dat Dominiq besonders baie aandag aan haar gee nie.  By haar eie huis gaan almal net vinnig stort en in die bed klim.  Môre is kerk en Dominiq kom hulle oplaai. 
In die kerk weet sy die mense loer en skinder seker nou lekker, maar daar is niks wat sy daaraan kan doen nie.  Dit is nou maar so.  Pierre en Juan-Paul kom in en gaan sit aan die oorkant van die paadjie.  Pierre loer net oor sy skouer en knipoog stout vir haar.  Dekselse mansmens, hy maak alles net erger.  Na kerk nooi Pierre hulle almal om by hom te gaan tee drink en die nuwe koekresep wat hy probeer het te kom toets.  Dit is ‘n genoeglike middag, wat een twee drie verbyvlieg.

Scarlatti's boek1 Tweede Kans Vir ArianaWhere stories live. Discover now