Hoofstuk 13

13 1 0
                                    

Ek wonder wanneer laas het ek behoorlik gerus, dit voel of ek op 'n mallemeule beland het wat net aanhou draai, sodra ek dink nou gaan ek afklim begin hy weer van vooraf draai. Laas vakansie was brutal, ek het vlieglesse gehad tweemaal 'n dag en Mika het my nie sagkens hanteer nie. Die ure tussenin het ons kinders vir Oom Karel gewerk en die tien nuwe chalets skoongemaak, geverf, toegerus met meubels, handdoeke en elke ding wat in die luukse chalets moet wees. Chris, Rowan, Robbie, Abel en Louis het al die tv's en alle elektroniese goed geïnstalleer onder Oom Karel se toesig natuurlik. Die kwartaal daarna was dit wintersport en ek is eerste hokkiespan gewees, so daar was nog 'n mini hokkietoer in die middel van die kwartaal ook. Dae wat ek nie hokkie gedoen het nie, moes ek helikopter vlieg en gedurig na die Buffel se gekerm en gemor luister. Die drieweke wintervakansie het ook nie eers rus en vrede gebring nie want ek en die Buffel moes altwee ons junior veldwagterkursusse doen. Die eksamen het my skoon benoud gehad en oormôre sal ons die skriftelike eksamen sowel as die fisiese-eksamen se uitslae kry voordat ons junior veldwagters oormôre-aand 'n braai saam met Oom Daniël en sy veldwagters van Baswati lodge het. Genade ek hoop maar ek sal nie te sleg gedoen het nie, ek skaam my morsdood voor Oom Daniël as ek swak gedoen het. Dan is daar nog die Buffel se aanmerkings ook wat ek sal moet verduur as ek verbrou het. Ek sien Oom Daniël wink my nader en ek draf vinnig tot by hom net toe Mika ook langs hom kom staan. "Mackenzie ek wil hê jy en Mika moet gou vir my die oostelike leeukamp deurry. Daar is toeriste wat self wou ry en het 'n kaart en radio gekry het, maar hulle moes tienminute terug al gerapporteer het by ontvangs. Gaan kyk julle net of hulle nie iewers vasgehaak het nie." Ek knik en vat my geweer. "Is reg Oom ek sal inroep sodra ons hulle onder oë het." Ek en Mika stap na die jeep toe en hy stap stadiger toe ons die jeep nader. "Wil jy bestuur Kiewiet?" Ek skud my kop en loop direk passasierskant toe. "Nee wat, ry jy ek sal die kykery doen." Hy glimlag en klim agter die stuur in. Ek het hom nogal gewoond geraak in hierdie drieweke en ek het die vreemdste gevoelens wanneer hy so stip na my kyk wanneer ons besig is met iets. Waar ons die oostelike kamp nader, staan ek op om by die dakvenster van die jeep uit te kyk. Ek staan met my voete op die frame en leun met my geweer in my arms op die dak en draai van links na regs om te kyk of ek iets gewaar voor ek die remote druk om die hek oop te maak. Hierdie kamp is eintlik nie 'n plek waar die toeriste alleen moet inry sonder 'n gewapende veldwagter by hulle nie. Oom Daniël het al baie met Oom At hieroor baklei maar die ou man is 'n korrelkop. Ek maak die hek agter ons toe en ek klop op die dak dat Mika kan weet hy kan maar ry. So ent die kamp in hang ek oor die kant en roep na Mika. "Jy weet hierdie mense moes nooit hierbinne gewees het nie, Oom At vat groot kanse met die storie." Ek weet Mika like dit ook nie, want hy het Oom Daniël al daarna gevra. "Ek weet Kiewiet, maar gelukkig het ek en jy net nog drie dae hier oor dan is dit nie meer my en jou probleem nie. Ek is net bly ek werk nie hier nie en nog blyer Janco is my baas. Ek en die Oom At sal nooit saam deug nie." Ek hoor die leeus maar sien absoluut niks van die toeriste nie en ons is al byna deur die hele kamp toe ek terugklim en die radio vat. "Ek gaan inroep want ek sien wraggies niks nie en die son begin nou vinnig afgaan, dis nog winter dit gaan vroeg donker wees." Mika knik en stop 'n oomblik terwyl hy om hom heen kyk en luister na die leeus. "Wag Kiewiet, kom ons ry net om hierdie koppie, ek kan die leeus hoor aan daardie kant, klink of hulle dalk 'n bok gevang het, as ons niks sien nie roep ons in vir bystand." Ek klim terug dak toe en hy ry die pad om die koppie en daar staan die Baswati Jeep onder 'n boom, maar ek sien nie die vier toeriste nie. Ek kyk eerste in die boom, maar daar is niemand in daai boom nie. Mika vat die radio maar praat eers met my. "Kiewiet hou jou oë oop, kyk al die kante om ons. Ek gaan inroep." Ek kyk maar sien net die trop leeus wat besig is om te vreet. Ek weet nie hoekom ek my geweer optel en deur die scope kyk nie, maar die volgende oomblik sien ek die kop in die leeuwyfie se bek en ek is so geskok ek kan eers nie 'n woord uitkry nie. Ek hoor Mika asof hy verlangs in 'n droom praat. "Baswati kom in vir Junior 1." Oom Daniël antwoord dadelik. "Junior 1 stuur." Mika wil praat maar ek skop hom teen die skouer. "Wag...ek...een van die toeriste..." Mika klim regop op die sitplek met die radio in sy hand en druk agter my in deur die dakvenster en kyk na waar ek wys. "Baswati toeriste aangeval deur leeus. Een liggaam gevind, die ander drie is nog soek. Ons is agter die oostelike koppe, so 3 kilo's van Seekoeipan af. Ons kyk verder, die jeep staan hier onder die ou groot boom." Daar is absolute stilte op die radio en dan kom Oom Daniël se stem oor die radio. "Kyk of julle die ander sien, maar moenie nader aan die leeus gaan nie. As hul eenkeer aangeval het kan hulle dalk net weer dit doen. Mackenzie skiet om dood te skiet as jy nie anders kan nie." Mika kyk na my en voor ek iets kan sê soen hy my op my slaap. "Staan vas Kiewiet en hou jou oë oop. Ek gaan stadig 'n draai vat verby die leeus. Net miskien kruip iemand in die bome daar agter weg." Ek is nog te geskok na die dooie man se kop wat ek gesien het en die soen op my slaap dat ek net kan knik. Ons ry stadig nader en die leeus steur hulle nie juis aan ons nie. Hulle vreet en toe ek mooi kyk sien ek die stukke van 'n man se been en dan die arm toe die een leeuwyfie dit in haar bek optel en van die lyf afskeer. Ek gril en ek voel hoe die trane van my wange afloop. Daardie is iemand se kind of Pa of man... Daar is net een jong mannetjie wat sy kop lig en na ons kyk. Sy gesig is vol bloed en ek gril my morsdood as ek dink dis 'n mens se bloed wat so aan hom sit. Mika stop waar die gras korter is en ek loer in die jeep in. Dit is egter leeg en ek sien die kameras, fone en rugsakke wat orals in die gras lê. Die volgende oomblik kyk ek vas in die groot starende oop oë van een van die toeriste waar hy anderkant die jeep lê. Ek fluister vir Mika na binne toe. "Daar is 'n tweede toeris anderkant die jeep, wees net versigtig, daar is 'n jong mannetjie wat ons dophou." Mika sit met sy geweer oor sy skoot, maar ek vertrou nie die jong mannetjie nie. Ek het al eenmaal van te vore 'n relletjie met een geloop en die een se twee geeloë laat my aan daardie een dink. Ek draai my kop en toe ek mooi kyk sien ek daar lê nog twee van die toeriste se oorskot aan die anderkant agter die leeus waar vier wyfies lê en vreet. "Daar is die laaste twee anderkant waar die wyfies lê, ons was te laat Mika..." Hy vat die radio en ek hoor die static voor hy begin praat. "Baswati kom in vir Junior 1." Oom Daniël praat en ek kan hoor hy is in 'n jeep. "Junior 1 stuur." Mika haal diep asem voordat hy praat asof dit vir hom moeilik is om te sê wat hy moet sê en ek sweer ek hoor die hartseer in sy stem. "Baswati ek gee net confirmation dat al vier toeriste se oorskot gevind is. Ons benodig nog gewapende veldwagters, polisie en die coroner met vier body bags." Daar is doodse stilte, al wat ons hoor is die leeus se gebrul en gegrom soos hulle vreet. Ek wil hier weg, maar ek weet ons moet wag vir Oom Daniël en intussen het die jongleeu nader gekom. As hy gaan aanval gaan dit vir Mika wees, want hy is die naaste aan die leeu en ek draai my om dat ek direk na die leeu kyk in my scope. "Buffel sit doodstil moenie beweeg om jou geweer op te tel nie. As hy aanval moet jy nie tussen my en hom wees nie." Ek weet Mika se geweer lê oor sy bene maar dit gaan te laat wees om die geweer te lig as die leeu spring. Ek sien die stert wat kwispel en ek sien hoe tap die drool sulke taai rooi bloederige toue van sy baard af. Daar is intent in sy oë en ek weet voor my siel vandag skiet ek nog 'n leeu dood. Die oomblik toe ek sy boudspiere sien saamtrek, druk ek die sneller en sy sprong word in die lug gestuit, maar sy een poot tref Mika teen die bors. Ek haal oor en is gereed vir enige een van die ander as hulle kom, maar hulle het almal opgevlieg toe die skoot klap en die bosse ingevlug. Ek klim vinnig terug binne toe en Mika se bleek gesig sê vir my alles wat ek moet weet. Ek gryp die radio. "Baswati Junior 1 hier. Kry heli gereed vir noodvlug, ek is oppad helipad toe." Ek trek Mika met geweld tot in die passasierssitplek en gooi sy geweer agter op die vloer. Ek sien die baie bloed en dit is vir my te na aan sy nekslagaar vir comfort, ek weet dus nie wat die skade is nie tot hy met my praat. "Stadig Kiewiet ek is okay., dis net 'n paar diep skrape." Ek gluur hom aan terwyl ek my boshemp uitpluk, gelukkig het ek 'n t-hemp onder aan. Ek druk hom vas teen sy skouer en bors en druk sy eie hand daarop. "Okay se gat man, hou vas Buffel hier gaan ons." Ek sit die jeep aan en ek jaag met 'n vaart weg, daar is in elk geval niks wat ons vir daai toeriste meer kan doen nie. Ek ry verby Oom Daniël en hy draai met 'n vaart om en sit my agterna terwyl die ander veldwagters aanry na die grusame toneel anderkant die koppie. Ek loer kort-kort na Mika, maar met die daal van die skemerte kan ek nie mooi sien of hy nog by is nie. "Buffel jy beter nie hier op my watch die tydelike met die ewige verwissel nie, praat met my, jy moet wakker bly." Ek hoor sy laggie bo die jeep se enjin uit en ek is bly, dit beteken hy is nog met my. "Toemaar Kiewiet ek kan nie nou al lepel in die dak steek nie, ek moet jou dan nog vir baie jare die harnas in jaag. Ugh...u..." Ek het bietjie woes oor 'n hobbel gegaan maar ek sien die helipad voor maar daar is nog geen vlieënier nie. Ek stop met 'n vaart met Oom Daniël kort agter my. "Mackenzie jy gaan self moet vlieg, die verdomde Oom At het die vlieënier afgegee die week en niks vir my gese nie." Hy kyk na Mika en help hom uit. Sy hemp word afgeskeur en tannie Cindy wat 'n nurse is verbind hom so goed sy kan en beduie vir my helikopter toe. Ek is soos blits in die heli en gaan alles na so vinnig en goed ek kan. Tannie Cindy klim saam met Mika agterin en Oom Daniël klap die deur toe net voor ek opstyg. Ek beduie vir tannie Cindy om die oorfone op te sit en toe sy reg is praat ek vinnig. "Ek gaan jou in patch met Naboom se hospitaal, maak seker of hulle hom gaan kan help anders skiet ons deur Pretoria Unitas toe. Hy verloor te veel bloed na my sin." Ek hoor haar praat in mediese terme en Naboom bevestig dat hul vir hom wag by ongevalle. Toe ek die heli neersit, is die verpleegpersoneel by en gelukkig is tannie Cindy by en verduidelik alles terwyl ek die heli af sit en agterna hol. Binne by ongevalle is dit 'n gewemel en ek raak sommer benoud en stap op en af tot tannie Cindy my aan my skouers vat en teen haar aantrek. "jy is die braafste meisiekind wat ek ken Mackenzie Moolman. Dit was jou tweede leeu nê?" Ek knik en sy vee oor my wange en dis toe dat ek besef ek huil alweer. Die adrenalien is besig om af te gaan en nou begin ek rattle. Sy lag effe en beduie iets vir iemand agter my. Die volgende oomblik word ek in 'n stoel gestop en 'n glasie met vloeistof gegee wat ek vinnig drink. Ek sit nog so toe storm Oom Daniël en my Pa-hulle binne. My Ma gee my een kyk toe het sy my teen haar bors en vryf oor my rug voor sy my wegdruk en my Pa my vat. Hy lig my gesig op en ek sien die glimlag. "Hel Mackenzie jy sal my hart nog laat gaan staan, maar ek is trots op jou my kind. Jou tweede leeu in tweejaar, wow..." Die deur van die ongevalle gaan oop en die Dr. wat uitkom glimlag gerusstellend. "Waar is daai brawe girl waarvan die pasiënt my vertel het?" Ek staan beteuterd nader en die Dr. steek sy hand na my toe uit. "Mackenzie Moolman ek het lanklaas so mooi getuigskrif van iemand gekry soos joune. Mnr. Nolan vertel my jy het sy lewe gered toe jy 'n leeu geskiet het, hom tot by die helipad gevat en hom nog self ingebring het met die heli ook. Dit wil gedoen wees meisiekind...aaahhhh...geen wonder nie, kyk wie is die trotse ouers, niemand anders as Janco en Annalie Moolman nie. Hel Janco jy kan trots wees op die kind. Mnr. Nolan het 'n paar diep skrape op sy bors waar die naels hom gevang het, gelukkig geen groot are geraak nie, hy gaan vannag hier bly vir observasie al is dit net steke wat hy gekry het. Hy vra egter om gou met Mackenzie te praat as julle nie omgee nie. Julle kan hom nou besoektyd sien, hy is oorgeskuif na 'n privaatkamer op tweedevloer nr 104, maar Mackenzie mag dadelik ingaan." Ek stap saam met my Pa-hulle terwyl Oom Daniël vir my Pa-hulle verduidelik presies wat alles gebeur het. My ma kyk bekommerd na my. "Mackenzie is jy okay, liewe hemel dit...dit moes verskriklik gewees het om dit te sien. As jy daaroor wil praat met een van ons of selfs 'n terapeut moet jy asb nie huiwer nie my kind." Ek knik en by Mika se deur hou my Pa die deur oop maar stap nie in nie. "Praat julle eers ons sal nou inkom, ek gaan reël dat Isak of iemand gou vir Mika skoonklere en so aan gaan haal by die lodge." Ek stap in en sien nie eers die twee ander mans en ouerige dame wat daar sit nie. Ek sien net sy grinnikende gesig toe hy my in die deur sien. "Buffel, jy sal nog so lag dan vreet die leeus jou regtig op, plaas ek maar daai leeu gelos het dat hy sy liefde vir buffelsvleis uit sy sisteem gekry het." Mika lag kliphard en dis toe die ander mans lag dat ek hulle eers sien. "Ag Kiewiet jy sou dit nooit oor jou hart gekry het om my vir daai leeu te voer nie, kyk net hoe vinnig het jy my ingevlieg hospitaal toe sonder enige hick-ups." Ek skud my kop. "Nee jy verstaan nie ek kon nie toelaat dat daai leeu sooibrand van jou kry nie, dit sou erger vir hom as die dood gewees het." Hy lag steeds toe my Ma-hulle inkom, maar raak dan ernstig. "Kiewiet wat ek eintlik wou sê is dankie, dankie dat jy my lewe gered het en dankie dat jy die beste back-up was wat enige veldwagter in sy lewe voor kan wens. Janco en Annelie julle kan trots wees op julle dogter. Kom ek stel julle voor. Hierdie is my Ma Anne Nolan en my twee broers Arno en Ruan. Hierdie is Mackenzie my mede veldwagter en vliegleerling en haar Pa en Ma Janco en Annelie wat ook my base is." Almal groet oor en weer, maar sy Ma trek my half eenkant. "Dankie Mackenzie vir my seun se lewe. Ek is diep in die skuld by jou." Ek glimlag en gee haar hand 'n drukkie. "Dis wat mens doen vir jou vriende tannie, jy is regtig nie in die skuld nie. Gelukkig word ons goed opgelei en behoort ons dit almal te kan doen in 'n noodgeval." Sy glimlag en gee my 'n drukkie. Die ander raak stil en kyk van my na Mika en ek verstaan nie wat nou aangaan nie tot Oom Daniël begin praat. "Julle twee het vroeër in laasweek die alleen uitgaan van toeriste bevraagteken. Wel dit is aangeteken en julle redenasies rondom dit is deur ons ander opleidingsbeamptes en veldwagters bespreek. Na vandag se gebeure wat julle ongelukkig môre verklarings sal voor moet aflê kan ons dalk Oom At laat insien hoekom julle dit nie as reg beskou het nie. Hierdie gebeure gaan verrykende gevolge vir ons lodge hê, maar dis dalk nodig dat daar meer na veiligheid gekyk moet word. Daar was ook ander goed waaroor julle spesifiek gekibbel en gemurmereer het oor en waaroor julle gestraf was deur Oom At. Wel ek wil hê julle twee moet asb. saam gaan sit sou gou moontlik en dit alles op skrif stel dat ons daarna gaan kyk. Ek het Oom At se seun en vernoot in kennis gestel en ek het 'n gevoel daar gaan 'n paar veranderings kom in die volgende paar weke, waar julle insette definitief belangrik gaan wees. Mackenzie ek weet jy is vandag deur hel, maar ek gaan jou ongelukkig moet vra om die heli terug te neem Baswati toe en aan te meld vir jou laaste paar dae voor julle gradeplegtigheid. Mika jy is met siekverlof soos ek van Janco verstaan, maar ek sal dit waardeer as jy die verklarings en die ander insette saam met Mackenzie kan kom doen en dan natuurlik die gradeplegtigheid oormôre sal bywoon." Mika knik. "Dit is reg ek sal môre oggend daar wees, ek is regtig okay ek weet in elk geval nie vir wat ek hier moet oornag nie." Ek kan myself net nie help nie en my kommentaar laat die ander proes. "Dalk omdat jy Mnr. Buffel die stoeigeveg met Mnr. Leeu ampertjies verloor het." Hy kyk na my en hy grinnik. "Wel dit lyk my gelukkig vir Mnr. Buffel was die astrante en aanvallerige Mej Kiewiet daar om sy bas te red." Sy broers lê soos hulle lag en ek trek vir hom gesig. "Sien jou môre Buffel, gedra jou tog nou vanaand en moenie 'n buffel met die nursies wees nie. Laat ek tog die heli terug kry op Baswati voor ek punte verloor vir ongemagtigde gebruik van 'n Baswati voertuig." Ek soen my Pa en Ma elk op die wang en ook vir tannie Anne voor ek vinnig by die deur uit is. Ek doen nog my check toe my Ma langs my inklim. "Kom ek vlieg saam, dan kan jy hierdie ure ook log as nagure saam met 'n wettige vlieënier. Pa sal my op Baswati kry as jy seker is jy gaan daar bly en klaarmaak." Ek glimlag breed. "Dankie Mamma, ja ek gaan bly en klaarmaak. Ek sal seker oormôre aand huistoe kom na die ete. Julle kom darem seker vir die gradeplegtigheid en ete die oggend?" My Ma sit haar oorfone op en glimlag toe sy in my oor praat. "Ons mis dit vir niks in die wêreld nie." Nadat ek geland het en ek alles nagegaan het teken my Ma die logboek en ons twee stap na Baswati se ontvangs toe waar Oom At kop onderste-bo staan saam met sy seun. Ek handig die logboek in en groet my Ma voor ek loop om by die ander junior veldwagters te gaan aansluit in die eetsaal. Die oomblik toe ek instap is daar 'n luide applous en almal staan op. Vir 'n oomblik is ek verleë tot een van die ander vra hoe dit met Mika gaan en ek hulle vertel hy is môre terug hier. Ek gaan staan by die kospanne en kyk na die gemaaldevleis en skielik is ek naar, ek dink nie ek gaan gou weer kan eet nie. Oom Daniël het intussen ingekom en hy kom staan langs my. "Nie honger nie nê? Jou Pa het gesê jy gaan nie kan eet vanaand nie. Gaan op na ons huis toe tannie Cindy het vir jou 'n peanut-piesangsmoothie gemaak. Dis beter as om op 'n leëmaag na so helse dag soos vandag te gaan slaap." Ek knik en loop uit. By hulle huis stap ek in en loop my vas in Louis en Lumé. Hulle trek my dadelik nader en gee my so regte group hug. "Hel Mackenzie ons harte het amper gaan staan toe daai skoot klap en ons weet nie wat aangaan nie totdat jy oor die radio geroep het. Is Mika okay?" Ek knik. "Ja seker so okay soos jy kan wees na vyf leeunael-hale oor jou bors. Dis dieperig maar daar het darem nie 'n groot aar seergekry nie. Hy het so twintig steke in die grootste sloot en dertien in een van die ander. Die ander drie is net skoongemaak dis nie diep nie, maar hy moet oornag bly en word môre ontslaan." Tannie Cindy gee my smoothie en ek gaan sit by hulle ontbythoekie saam met Lumé. Sy wag net tot Louis weg is voordat sy my ernstig aankyk. "Jy like hom nê?" Ek kyk vir 'n oomblik vraend na haar en sy sug en rol haar oë. "Moenie my so kyk nie jy weet van wie ek praat. Ek het jou al dopgehou as hy naby is en in hierdie drieweke van julle opleiding was julle heeltyd saam. Ek het gesien toe my Pa julle indeel het en het gewonder hoe dit sal gaan. Toe ek my Pa vra of dit 'n goeie ding is om julle twee hardekwasse op te team het hy gelag en gesê julle twee bring die beste in mekaar uit en julle is altwee baie kompeterend dit sal glo goed wees vir julle om te leer om saam te werk. En na vandag weet ek my Pa was reg, julle was 'n goeie span saam. Ek is net hel bly ek het nie op daai toneel afgekom nie. Wil jy daaroor praat?" Ek kyk na Lumé en wik en weeg maar sy vat my hand. "Jy weet ek gril nie sommer vir bloed nie ek wik en weeg nog tussen onderwys, verpleging of dalk sielkunde en ek is 'n goeie luisteraar." Ek drink my smoothie en toe ek klaar is kyk ek na haar. "Jy belowe dat wat ek jou vertel net tussen ons sal bly? Jy mag dit ook nie vir Chris vertel nie." Sy knik en ek vertel haar van Eugene en toe later Wiaan en sy knip nie 'n oog nie en val my ook nie in die rede nie, vra net hier en daar iets en knik met haar kop. "...en ja jou Pa was seker reg, ek en Mika werk goed saam wanneer ons nie stry oor iets nie. Ek...vrek ek wil dit nie eers aan myself erken nie, nou sit ek hier en ek wil dit vir jou vertel. Ja ek like hom... baie en...hy laat my hart vinniger klop en hy noem my Kiewiet. Jy weet dis die eerste iemand wat vir my 'n bynaam gegee het en my half spesiaal laat voel daaroor. Vandag toe ons in gevaar was en ek daai toeris se kop deur my scope in die leeu se bek gesien het, het hy agter my in daai nou spasie van die jeep se dakvenster ingeklim, hy het my op my slaap gesoen en gesê staan vas Kiewiet en hou jou oë oop. Toe daai leeu hom aanval en ek al daai bloed sien het my hart amper gaan staan. Dit was amper weer vir my van vooraf dieselfde as die dag toe my Pa geskiet was deur daai poacher en ek hom moes Unitas toe vlieg." Lumé glimlag en vryf oor my skouers. "Jy is die braafste girl wat ek ken Mackie en ek is trots om te kan sê jy is my baie mooi brawe niggie. As ek vir jou raad het, byt net nog so bietjie vas. Ek het in hierdie drieweke gesien hoe hy na jou kyk met tye. Hy like jou definitief ook. Vroeg in Januarie word jy negentien en dan gaan jy al vir jou Pa werk want ek is seker jy gaan jou Kommersiële vlieglisensie slaag. Ek het 'n idee hy wag net daarvoor, dan gaan hy openlik vir jou ogies maak." Ek lag vir haar en beduie. "Ek dink ek weet watter beroep jy moet doen...definitief sielkundige...jy het al my geheime uit my uit binne 'n halfuur." Sy lag en toe ons opstaan langs die tafel gee sy my 'n drukkie en die pil wat haar Ma vir my gelos het. "Hier...drink hierdie pilletjie anders gaan jy ook nie kan slaap vannag nie." Ek drink die pil voor ek na die meisies se bungalow toe stap, gou shower en in die bed klim. Sjoe wat 'n dag...ek wonder of Mika okay is...en of hy sal kan slaap.

Rainbow lodge boek2 Gediertes en GedrogteKde žijí příběhy. Začni objevovat